16 MEI 2023
TADJIKISTAN
Twee-en-sewentig-jarige broer Sjamil Chakimof vrygelaat uit tronk in Tadjikistan
Op 16 Mei 2023 is broer Sjamil Chakimof uit die tronk in Tadjikistan vrygelaat. Hy keer terug huis toe nadat hy meer as vier jaar lank in die tronk was vir sy geloof.
Voordat Sjamil in 2019 gearresteer is, het hy gesukkel met hoë bloeddruk, ’n hartkwaal en ander gesondheidsprobleme. Ten spyte van Sjamil se swak gesondheid het hy nie ordentlike gesondheidsorg gekry terwyl hy in die tronk was nie. As gevolg hiervan het sy toestand vererger, en hy het selfs gangreen in sy been en voet gekry.
Maar ten spyte van die uitdagings en die pyn wat Sjamil gehad het terwyl hy in die tronk was, het hy positief gebly deur op spesifieke verse in God se Woord te fokus.
Sjamil het dikwels in sy gebede die woorde van Psalm 141:8 ingesluit, wat sê: “Ek rig my oë op u, o Soewereine Heer Jehovah. Ek het beskerming by u kom soek.” Hy is ook vertroos deur die woorde in Jesaja 49:13, 16, wat sê dat die name van dié wat swaarkry, in ’n figuurlike sin op Jehovah se palms “gegraveer” is. Hierdie woorde het Sjamil verseker dat al was hy in die tronk opgesluit, Jehovah hom nie sou vergeet nie.
Omdat Sjamil deur Jehovah se Woord vertroos is, kon hy sy vreugde behou en selfs ander aanmoedig. ’n Broer wat gereeld in kontak gebly het met Sjamil terwyl hy in die tronk was, vertel: “Die eerste keer dat ek hom gebel het, het ek verwag om die stem van ’n hartseer en gebroke man te hoor. Maar hy het eintlik sterk geloof gehad. Hy het in alle omstandighede positief gebly en het ons dikwels opgebeur.”
Klaagliedere 3:25 sê: “Jehovah is goed vir die een wat op hom hoop, vir die persoon wat hom bly soek.” Ons bid met volle vertroue dat Jehovah “goed” sal bly vir Sjamil en die res van ons broers en susters in Tadjikistan wat met vreugde volhard.