20 MEI 2024
THAILAND
Getuies beklemtoon die Bybel se rol in goeie verstandelike gesondheid by internasionale boekeskou in Bangkok
Die 22ste Internasionale Boekeskou van Bangkok is vanaf 28 Maart tot 8 April 2024 in Bangkok, Thailand, gehou. Die geleentheid was gehou by die Queen Sirikit Nasionale Konferensiesentrum, en ongeveer tweemiljoen mense het dit bygewoon. Ons broers en susters het ’n stalletjie opgerig wat gewys het hoe die raad in die Bybel kan help om verstandelike gesondheid te verbeter en stres te verminder. Behalwe vir al die gesprekke wat hulle gehad het, het die broers en susters wat by die stalletjie gehelp het, ook 34 versoeke vir Bybelstudies gekry.
Gedurende een gesprek het ’n man gesê dat sy dogter aan ernstige depressie ly. Ons broers het ’n hele paar skriftuurlike gedagtes uit Die Wagtoring nr. 1 2023 met die titel “Verstandelike gesondheid – Hoe die Bybel kan help” met hom gedeel. Die broers het hom ook gehelp om meer inligting op jw.org oor ’n gelukkige gesinslewe te kry. Hy was baie dankbaar vir die praktiese raad uit die Bybel en het gesê dat hy dit dadelik met sy dogter wil deel.
’n Belangrike staatsamptenaar het ons stalletjie besoek en lank met een van die broers gesels. Nadat die amptenaar na ’n hele paar video’s op jw.org gekyk het, het hy oor Jehovah se Getuies en ons Bybelonderrigtingswerk uitgevra. Hy het toe ’n plakkaat gesien waarop ’n gratis Bybelstudieprogram aangebied word. Die amptenaar het gevra: “Hoe studeer ’n mens die Bybel?” Die broer het vir hom die brosjure Geniet die lewe vir ewig! gewys en ons Bybelstudieprogram gedemonstreer. Die broers het gereël om by ’n ander geleentheid verder met hom te praat.
Nadat ’n suster ons webwerf vir ’n vrou gewys het en kortliks ons predikingswerk verduidelik het, het die vrou gevra: “Wat doen julle nog?” Die suster het vir haar die video Wat gebeur by ’n Koninkryksaal? gespeel. Die vrou het aandagtig na die video gekyk. Toe het sy gesê: “Die atmosfeer by julle vergaderinge lyk so warm en vriendelik! Ek sal dit graag wil bywoon.” Die volgende week het die vrou amper twee ure gereis om ’n vergadering by te woon.
Ons is dankbaar dat ons broers en susters in Bangkok die geleentheid gebruik het om ander te help om “die vrede van God, wat alle denke oortref,” te ervaar. – Filippense 4:7.