28 JUNIE 2023
THAILAND
Onderbreking in konstruksie by die takkantoor in Thailand bring onverwagse seëninge
In 2019 het plaaslike en internasionale vrywilligers begin met ’n konstruksie- en opknappingsprojek by die takkantoor in Thailand. Maar toe die COVID-19-pandemie begin, moes almal behalwe 8 van die 50 internasionale konstruksiewerkers wat toegewys was aan die projek, na hulle tuisland terugkeer. Toe die beperkings gelig is, kon daar weer met die werk begin word. Meer plaaslike vrywilligers is genooi om opleiding te ontvang en te help om die projek klaar te maak. Op 30 April 2023 is die laaste deel van die projek voltooi.
Broer Setthasat Tawansirikoel en sy vrou, Waraporn, was deel van die plaaslike vrywilligers. Hulle was aan die begin bekommerd omdat hulle nie genoeg ondervinding gehad het nie. Setthasat sê: “Toe ons eers daar is, het ons wonderlike opleiding ontvang.”
Baie van die plaaslike vrywilligers het groot vreugde en tevredenheid ervaar om aan die projek te werk. Dit het hulle aangespoor om hulleself beskikbaar te stel vir ander vorme van voltydse diens. Party werk nou aan konstruksieprojekte in die takkantoor se gebied in Thailand. Een suster woon die Skool vir Koninkrykspredikers by. Ander dien nou by Bethel. Een van die nuwe Bethelgesinslede, broer Rapeepat Woradetsakoel, sê: “Omdat ek gevoel het hoe Jehovah my gedurende die konstruksieprojek gehelp het, het dit my die moed gegee wat ek nodig gehad het om die uitnodiging te aanvaar om by Bethel te dien. Ek is seker dat Jehovah my met hierdie nuwe toewysing sal help.”
Die konstruksie en opknappingswerk by die takkantoor in Thailand het die opknapping van die woongeboue en kantore ingesluit, sowel as die bou van ’n nuwe instandhoudingsgebou, ’n pakhuis en ’n nuwe parkeerarea. Daar is ook ses woonstelle naby die takkantoor gekoop en opgeknap om ekstra blyplek aan lede van die Bethelgesin te voorsien.
Ons is bly saam met ons broers en susters in Thailand wat hulleself gewillig aangebied het in Jehovah se diens en wat die woorde in Psalm 34:8 ervaar, wat sê: “Kom ondervind en sien self dat Jehovah goed is.”