Spring na inhoud

Kleiner foto: Openbare getuieniswerk in Ostrava, Tsjeggiese Republiek. Regs: Die stadions in Ostrava (bo) en Praag (onder) waar die yshokkietoernooi gehou is

28 JUNIE 2024
TSJEGGIESE REPUBLIEK

Openbare getuieniswerk by die yshokkie-wêreldkampioenskap in die Tsjeggiese Republiek

Openbare getuieniswerk by die yshokkie-wêreldkampioenskap in die Tsjeggiese Republiek

Vanaf 10 tot 26 Mei 2024 is die Internasionale Yshokkie-federasie se wêreldkampioenskap in die Tsjeggiese Republiek gehou. Amper 800 000 mense het die geleentheid bygewoon wat in die stede Ostrava en Praag gehou is. Jehovah se Getuies het tydens die geleentheid lektuurtrollies buite die stadion opgestel. Hier volg ’n paar aanmoedigende ondervindinge.

Twee jong mans het na ’n lektuurtrollie gekom en die broers vriendelik gevra wie hulle is en wat hulle daar doen. Die broers het die mans vertel oor die werk wat Jehovah se Getuies doen en het verduidelik hoe ons Bybelstudieprogram werk. Een van die jong mans het gevra wanneer en waar so ’n Bybelstudie gehou word. Die broers het verduidelik dat die Bybelstudie gehou kan word op ’n tyd en plek wat hom pas. Hy het ’n studie aanvaar.

By ’n ander geleentheid het drie mans met ons broers gepraat. Hulle was verbaas om te hoor dat Jehovah se Getuies nie betaal word vir hulle deelname aan die predikingswerk nie. Een van die mans het gevra: “As julle nie hiervoor betaal word nie, wat kry julle hieruit?” Die Getuies het verduidelik hoe Bybelleringe hulle lewe verbeter het en hulle ’n hoop vir die toekoms gegee het. Een van die mans wat met hulle verduideliking beïndruk was, het gesê dat hy graag meer wil leer en vir ’n Geniet die lewe vir ewig!-brosjure gevra.

’n Ander man het ’n paar keer verby die lektuurtrollies geloop. Hy het uiteindelik gestop en die Getuies gevra: “Wat is die verskil tussen wat julle glo en wat my kerk leer?” Ons broers het die Bybel gebruik om kortliks te verduidelik wat Jehovah se Getuies glo. Die man het aandagtig geluister en hulle bedank omdat hulle dit deeglik verduidelik het. Die Getuies het toe vir hom van die funksies van jw.org gewys. Hulle het hom ook gewys hoe om die webwerf te gebruik om meer oor die Bybel en die leringe daarin te leer.

Ons waardeer ons broers en susters in die Tsjeggiese Republiek wat ywerig die “goeie nuus van goeie dinge” bekend maak aan almal wat wil luister. – Romeine 10:15.