Spring na inhoud

Koninkryksaal in Mersin

3 JUNIE 2016
TÜRKİYE

Europese Hof van Menseregte beslis dat Turkye Koninkryksale as “plekke van aanbidding” moet erken

Europese Hof van Menseregte beslis dat Turkye Koninkryksale as “plekke van aanbidding” moet erken

Op 24 Mei 2016 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) godsdiensminderhede in Turkye se reg op godsdiensvryheid bevestig. Die beslissing het die regering se streng toepassing van sy soneringswette aangespreek. Op grond van hierdie wette weier die regering om die Koninkryksale van Jehovah se Getuies amptelik as “plekke van aanbidding” te erken.

Die EHMR het bevind dat soneringswetgewing in Turkye voorsiening maak vir groot geboue om as “plekke van aanbidding” te dien, maar nie vir geboue wat geskik is vir kleiner godsdiensgroepe nie. Gevolglik het Turkye onnodige beperkings geplaas op die Getuies se reg om vryelik te aanbid en sodoende Artikel 9 van die Europese Konvensie oor Menseregte geskend. * Volgens die beslissing het die owerheid die soneringswetgewing gebruik om “streng, selfs verbiedende, voorwaardes te stel op die aanbidding van kleiner godsdiensgenootskappe, wat Jehovah se Getuies insluit”.

Soneringswetgewing laat geen ruimte vir godsdiensminderhede nie

Jehovah se Getuies het ’n godsdiensvereniging wat in Turkye geregistreer is. Hulle probeer al jare lank om aan soneringswetgewing te voldoen sodat hulle amptelike erkenning vir hulle Koninkryksale as “plekke van aanbidding” kan verkry. Maar die Turkse owerheid het deurgaans geweier om die Koninkryksale van Jehovah se Getuies as “plekke van aanbidding” te erken.

Aangesien die Getuies nie die gepaste sonering kan verkry nie en gevolglik nie aan die wetgewing voldoen nie, kan die owerheid enige tyd toegang tot al 25 Koninkryksale in Turkye verbied. Sedert Augustus 2003 het die owerheid reeds die Koninkryksale in Mersin en Akçay vir verskillende tydperke gesluit. In die Karşıyaka-streek van İzmir het die owerheid geweier om die Koninkryksaal as ’n plek van aanbidding te erken. Die EHMR se beslissing op 24 Mei was met betrekking tot die Koninkryksale in Mersin en İzmir.

Voor 2003 was Turkye se soneringswetgewing aangaande plekke van aanbidding, spesifiek geskryf vir die oprigting van moskees. Gedurende dié tyd het plaaslike owerhede Getuies stilswyend toegelaat om in privaat eiendomme bymekaar te kom. Maar Turkye het sy Soneringswet Nr. 3194 in 2003 gewysig om aan Europese standaarde van nie-diskriminasie en godsdiensvryheid te voldoen. Die wet het onder andere die woord “moskee” met “plek van aanbidding” vervang en het ook vereis dat plaaslike munisipaliteite grond vir godsdiensgeboue beskikbaar stel.

Die wysigings van die wet was veronderstel om godsdiensminderhede die reg te gee om ’n plek van aanbidding te bou en te besit. Maar die soneringswette skryf in werklikheid minimum oppervlakvereistes voor wat slegs voorsiening maak vir groot getalle aanbidders, asook ’n gebou wat ontwerp is vir aanbidding volgens die Moslemgeloof.

Streng toepassing van die wet belemmer die reg om “plekke van aanbidding” te hê

Daarbenewens het munisipale owerhede nie eiendomme wat vir kleiner plekke van aanbidding gesoneer is, voorsien nie. Die Getuies se aansoeke om hersonering word ook deurgaans geweier. Wanneer die Getuies hierteen appelleer, pas howe en administratiewe owerhede soneringswetgewing streng toe en weier hulle om die Koninkryksale van Jehovah se Getuies as “plekke van aanbidding” te erken.

In Mersin en Akçay het die munisipale owerhede die nuwe wet streng toegepas en die Koninkryksale daar toegemaak omdat hulle nie as “plekke van aanbidding” verklaar is nie. Toe die Getuies aansoek gedoen het vir ’n alternatiewe plek vir aanbidding, het die owerhede hulle ingelig dat daar geen plekke vir hierdie doeleindes gesoneer is nie.

Hierdie moeilike situasie is algemeen regoor Turkye. Dit verhoed dat Jehovah se Getuies en ander godsdiensminderhede ooit erkenning sal ontvang vir die plekke wat hulle vir godsdiensvergaderinge gebruik. Jehovah se Getuies het tot dusver al 46 aansoeke ingedien om amptelik erkende plekke van aanbidding te bekom. Maar administratiewe owerhede in 27 verskillende munisipaliteite regoor Turkye het dit afgekeer. Verder verhoed die regulasies dat die gemeentes voordeel trek uit die voorsiening van vrystelling van sekere betalings, soos vir belasting, elektrisiteit of water, wat aan formeel erkende plekke van aanbidding gebied word.

Getuies doen ’n beroep op die EHMR

Voordat Jehovah se Getuies hulle tot die EHMR gewend het, het hulle van alle moontlike regsopsies gebruik gemaak. Die Staatsraad, die hoogste administratiewe hof in die land, het nog nooit ’n versoek van Jehovah se Getuies toegestaan om hulle Koninkryksale volgens soneringswetgewing amptelik as plekke van aanbidding te erken nie. Hulle het selfs ’n gunstige hofbeslissing ter syde gestel.

Daarom het Jehovah se Getuies in 2010 en 2012 twee aansoeke by die EHMR ingedien en die hof gevra om te ondersoek of Turkye die Europese Konvensie oor Menseregte geskend het. In ooreenstemming met sy gevestigde besluite, het die EHMR beklemtoon hoe belangrik dit is dat soneringswetgewing kleiner godsdiensgemeenskappe toelaat om verklaarde plekke van aanbidding te besit.

Die EHMR het gesê dat “’n klein godsdiensgemeenskap soos Jehovah se Getuies nouliks aan die vereistes van hierdie wetgewing kan voldoen om sodoende toegang tot ’n geskikte plek vir aanbidding te verkry”. Die EHMR het beslis: “Die plaaslike howe het glad nie die spesifieke behoeftes van ’n klein gemeenskap van gelowiges in ag geneem nie. . . . Weens hulle klein aantal volgelinge, het Jehovah se Getuies nie ’n gebou met ’n bepaalde boustyl nodig nie, maar eerder ’n eenvoudige plek waar hulle kan aanbid, kan vergader en hulle geloofsoortuigings aan ander kan leer.”

Die beslissing bevestig dat Turkye inbreuk gemaak het op die godsdiensaanbidding van Jehovah se Getuies deur te weier om hulle Koninkryksale as “plekke van aanbidding” te erken. Ahmet Yorulmaz, president van die Vereniging van Jehovah se Getuies in Turkye, het gesê: “Ons is baie bly oor die EHMR se beslissing. Ons hoop dat die regering van Turkye nou ons bestaande Koninkryksale as plekke van aanbidding sal erken en dat hulle die munisipale owerhede opdrag sal gee om soneringswetgewing toe te pas sodat ons in die toekoms plekke van aanbidding kan bekom. Deur hierdie beslissing te implementeer, sal Turkye nog ’n positiewe stap doen om die algehele beskerming van godsdiensvryheid te ondersteun.”

Sal Turkye godsdiensdiskriminasie uitskakel?

Die wetlike status van Jehovah se Getuies in Turkye het gedurende die afgelope dekade geleidelik verbeter. Die Turkse owerheid het in 2007 ’n godsdiensvereniging vir Jehovah se Getuies * geregistreer nadat hulle meer as 70 jaar lank die reg ontsê is.

Jehovah se Getuies is dankbaar dat Turkye stappe gedoen het om godsdiensvryheid vir sy burgers te verseker. Hulle hoop dat die EHMR se onlangse beslissing Turkye sal motiveer om die reg op godsdiensvryheid, wat deur die Turkse Grondwet sowel as internasionale wetgewing gewaarborg word, te handhaaf. Die Getuies sien uit na die tyd wanneer Turkye die beslissing van die EHMR sal nakom deur hulle 25 bestaande Koninkryksale as “plekke van aanbidding” te erken en deur hulle toe te laat om in die toekoms die nodige plekke van aanbidding op te rig.

^ par. 3 Artikel 9 is die reg op “vryheid van denke, gewete en godsdiens”.

^ par. 19 Die Vereniging vir die Ondersteuning van Jehovah se Getuies in Turkye is op 31 Julie 2007 gestig.