Spring na inhoud

11 JUNIE 2014
TÜRKİYE

Europese Hof van Menseregte beslis ten gunste van vier gewetensbeswaardes in Turkye

Europese Hof van Menseregte beslis ten gunste van vier gewetensbeswaardes in Turkye

Op 3 Junie 2014 het die Europese Hof van Menseregte eenparig beslis dat Turkye die bepalings van die Europese Konvensie * geskend het toe dit vier van Jehovah se Getuies in Turkye skuldig bevind het weens hulle gewetensbeswaar teen militêre diens. Çağlar Buldu, Bariş Görmez, Ersin Ölgün en Nevzat Umdu het geweier om diensplig te doen as gevolg van hulle vaste godsdiensoortuigings. Die EHMR het in hulle uitspraak gesê: “Die stappe wat teen die aansoekers gedoen is ... kom neer op inmenging wat volgens Artikel 9 van die Konvensie nie in ’n demokratiese gemeenskap nodig is nie.”

Op 17 Maart 2008 het die vier Getuies ’n aansoek teen die regering van Turkye by die Hof ingedien (Buldu and Others v. Turkey) waarin hulle aanvoer dat Turkye nie hulle godsdiensvryheid gerespekteer het nie, aangesien die regering hulle herhaaldelik aangekla en skuldig bevind het omdat hulle diensplig geweier het. Gesamentlik is hulle meer as 30 keer vir diensplig opgeroep en was hulle meer as ses jaar lank in die tronk of in militêre aanhouding.

Die EHMR het in hulle uitspraak gesê: “Die feit dat die aansoekers, wat Jehovah se Getuies is, weens hulle gewete geweier het om diensplig te doen, het beslis bewys gelewer van hulle godsdiensoortuigings. By die Hof bestaan daar geen twyfel nie dat die herhaalde skuldigbevindings van die aansoekers, ... asook die moontlikheid van eindelose kriminele vervolging, ... neerkom op inmenging met hulle reg op godsdiensvryheid wat deur Artikel 9 van die Konvensie gewaarborg word.”

Bariş Görmez

Dit is die derde beslissing wat die EHMR teen Turkye bereik het wat die geskil van gewetensbeswaar betref, ná die beslissings ten gunste van Feti Demirtaş in 2012 en Yunus Erçep in 2011. Daarbenewens het die VN se Menseregtekomitee in 2012 ’n beslissing bereik ten gunste van twee ander Getuies in Turkye, Cenk Atasoy en Arda Sarkut, wat ook weens hulle gewete geweier het om diensplig te doen.

In Europa het hierdie geskil op 7 Julie 2011 ’n keerpunt bereik, toe die Groot Kamer van die EHMR in Bayatyan v. Armenia uitspraak gelewer het. Die EHMR het vir die eerste keer bevind dat Artikel 9 van die Europese Konvensie gewetensbeswaardes wat diensplig weier, beskerm. Hierdie beslissing is van toepassing op alle lidstate van die Europese Raad. Die uitspraak in Bayatyan, die EHMR se drie uitsprake teen Turkye en ander soortgelyke uitsprake deur die EHMR, plaas Turkye en ander lidstate onder verpligting om die manier waarop hulle gewetensbeswaardes behandel, te heroorweeg en om hulle wetgewing by die waarborge van die Konvensie aan te pas.

James E. Andrik, een van die prokureurs wat die vier aansoekers in hierdie saak verteenwoordig het, het gesê: “Hoewel geen Getuies op die oomblik in Turkye weens gewetensbeswaar in die tronk is nie, hou die regering aan om jong Getuiemans wat gewetensbeswaar teen diensplig aanteken, geregtelik te vervolg. Ons hoop dat die onlangse uitspraak in Buldu and Others v. Turkey die regering van Turkye sal beweeg om die fundamentele mensereg op gewetensvryheid te respekteer.”

^ par. 2 Artikel 3, verbod op marteling en onmenslike of vernederende behandeling; Artikel 6, die reg op ’n regverdige verhoor; Artikel 9, vryheid van denke, gewete en godsdiens.