Spring na inhoud

17 MAART 2014
TÜRKİYE

Turkye weier om aan Europese standaarde in verband met gewetensbeswaar te voldoen

Turkye weier om aan Europese standaarde in verband met gewetensbeswaar te voldoen

“Elke Turk word as ’n soldaat gebore.” Hierdie gesegde word aan skoolkinders geleer, in politieke toesprake herhaal en ingeprent by mans wat vir diensplig opgeroep word. Diensplig is vir alle manlike Turkse burgers verpligtend, en wanneer ’n persoon opgeroep word, is dit gewoonlik ’n rede om fees te vier. Dit is dus glad nie verbasend dat die regering van Turkye weier om ’n persoon se fundamentele reg te erken om gewetensbeswaar teen diensplig aan te teken nie.

Turkye is een van die min lande in die Europese Raad wat nie die reg op gewetensbeswaar erken nie

Maar aangesien Turkye ’n lidstaat van die Europese Raad is en die Europese Konvensie oor Menseregte as deel van sy landswet aangeneem het, het die land hom daartoe verbind om by Europese standaarde te bly. Sedert die uitspraak van die Groot Kamer van die Europese Hof van Menseregte (EHMR) in Bayatyan v. Armenia, het Turkye ’n verpligting teenoor die Europese Raad om die reg op gewetensbeswaar te erken. Omdat die land weier om dit te doen, ly gewetensbeswaardes in Turkye die gevolge daarvan.

Oor die afgelope 10 jaar het 55 mans wat Jehovah se Getuies is, die Turkse regering versoek om hulle reg op gewetensbeswaar te erken. Aangesien hulle versoeke geweier is, is hulle herhaaldelik aangekla, groot boetes opgelê en moes hulle, in sommige gevalle, jare se tronkstraf uitdien. Op die oomblik word 15 jong Getuiemans in Turkye herhaaldelik aangekla omdat hulle weier om diensplig te doen.

‘Ek moet die stem van my gewete gehoorsaam’

“Ek glo nie dat ’n magtige Staat my moet kan dwing om op te tree in stryd met my Bybelopgeleide gewete en die God-geïnspireerde woorde in Jesaja 2:4, [waaraan] ek glo ek gehoorsaam moet wees nie.” Daardie bekende vers, wat voor die hoofkwartier van die Verenigde Nasies in New York in klip gegraveer is, sê dat mense wat oorlog teëstaan ‘van hulle swaarde ploegskare sou smee en nie meer sou leer om oorlog te voer nie’. Met hierdie woorde het Feti Demirtaş, ’n Turkse burger wat op daardie stadium 25 jaar oud was, verduidelik waarom hy bereid was om sy vryheid prys te gee en eerder tronk toe te gaan as om in die leër te dien. As een van Jehovah se Getuies glo Feti vas dat hy die stem van sy Bybelopgeleide gewete moet gehoorsaam. Om hierdie rede is Feti al tien keer aangekla en het hy meer as ’n jaar en ’n half se tronkstraf uitgedien.

Toe Feti die eerste keer in hegtenis geneem is, het ’n sersant hom beveel om ’n militêre uniform aan te trek, maar hy het geweier—hy het gekies om sy Bybelopgeleide gewete te gehoorsaam. Die bevelvoerder van die basis het hom toe voor 400 mans laat staan en beveel om die militêre uniform aan te trek. Hy het weer geweier. Gedurende hierdie eerste opsluiting is hy deur tronkbewaarders beledig, teen die kop, skouers en bene geskop en in die gesig geklap.

Toe Feti in April 2006 vir die vyfde keer in hegtenis geneem is en in die tronk gesit is, het bewaarders hom gedwing om alles behalwe sy onderklere uit te trek sodat hy die uniform kon aantrek. Toe hy nie die uniform wou aantrek nie, het bewaarders hom vir vier dae in die dissiplinêre barak geplaas. Om sy moed te probeer breek, het hulle hom snags aan sy ysterbed vasgeboei, en gedurende die dag aan die tronktralies. Feti het gesê: “Gedurende die dag was ek baie bang en snags kon ek nie slaap nie omdat ek die heeltyd angstig was oor die soort mishandeling wat ek moontlik volgende sou moes verduur. Hoewel hierdie behandeling my emosioneel uitgeput het, was ek vasbeslote om my gewete te gehoorsaam.”

Die Europese Hof van Menseregte beslis ten gunste van die reg op gewetensbeswaar

In 2007 het Feti Demirtaş sy saak by die EHMR ingedien, waarin hy aangevoer het dat die Turkse regering sy regte geskend het toe hulle hom tronkstraf opgelê het omdat hy gewetensbeswaar aangeteken het. Op 17 Januarie 2012 het die EHMR in Feti se guns beslis en bevestig dat hy onmenslike en vernederende behandeling moes verduur, wat intense pyn en lyding tot gevolg gehad het. Die Hof het verder bevestig dat die reg op gewetensbeswaar wat op vaste godsdiensoortuigings gebaseer is, deur die Europese Konvensie oor Menseregte beskerm word. *

Ná die Hof se duidelike uitspraak in verband met die reg op gewetensbeswaar het Feti verwag dat die Turkse owerheid seker sou maak dat hy nie weer aangekla word nie. Trouens, op bevel van die EHMR het die Turkse regering hom 20 000 euro in skadevergoeding, koste en uitgawes betaal. Maar net vier maande ná die EHMR se uitspraak in Feti Demirtaş v. Turkey het Turkye se Militêre Hof hom weer twee en ’n half maande se tronkstraf opgelê omdat hy geweier het om diensplig te doen. Feti het appèl aangeteken, en die saak is nog hangende voor die Militêre Hof.

Die VN se Menseregtekomitee ondersteun ook die reg op gewetensbeswaar

Turkye het ook onlangse voorskrifte van die VN se Menseregtekomitee verontagsaam. In 2008 het twee Getuies, Cenk Atasoy en Arda Sarkut, klagtes by hierdie komitee ingedien waarin hulle beweer het dat die Turkse owerheid hulle regte geskend het deur hulle herhaaldelik aan te kla omdat hulle weier om diensplig te doen. Op 29 Maart 2012 het die VN se Menseregtekomitee gesê dat die mans se “weiering om diensplig te doen, uit hulle godsdiensoortuigings spruit” en dat die “daaropvolgende aanklagte en vonnisse inbreuk gemaak het op hulle reg op gewetensvryheid, wat ’n oortreding was van artikel 18, paragraaf 1, van die [Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte]”.

Hoe het die Turkse owerheid op hierdie duidelike voorskrifte gereageer? Hulle verwag nog steeds dat hierdie twee gewetensbeswaardes elke vier maande * vir diensplig moet aanmeld. As hulle dit nie doen nie, sal hulle aangekla word en swaar boetes opgelê word.

Jehovah se Getuies in Turkye is vasbeslote om die Bybelbevel te gehoorsaam om vir hulle medemens lief te wees. Wanneer ’n Getuie deur die Turkse owerheid vir diensplig opgeroep word, moet elkeen self besluit hoe hy sal reageer. Feti Demirtaş en ander Getuies het self tot die slotsom gekom dat dit met die Bybel se bevel en hulle gewete in stryd sou wees as hulle die wapen sou opneem.

Hierdie jong mans hoop dat hulle regering sy wetlike verpligtinge sal nakom. Die EHMR en die VN se Menseregtekomitee verwag dat Turkye hom aan hulle uitsprake en bevindings sal onderwerp en dat die owerheid in Turkye dus die reg op gewetensbeswaar teen diensplig sal erken. Totdat dit gebeur, voldoen Turkye nie aan die standaarde van die Europese Raad wat hierdie fundamentele mensereg betref nie.

^ par. 10 Dit was nie die eerste beslissing wat die EHMR in verband met die reg op gewetensbeswaar teen Turkye gelewer het nie. In November 2011 het die Hof uitspraak gelewer ten gunste van ’n ander Turkse Getuie, Yunus Erçep, wat oor ’n tydperk van 14 jaar 41 keer aangekla is omdat hy geweier het om in Turkye se leër te dien.

^ par. 14 Die regering het onlangs besluit dat manlike burgers elke drie maande vir diensplig opgeroep sal word.