Spring na inhoud

11 MAART 2013
TÜRKİYE

VN sê dat Turkye die gewete van sy burgers moet respekteer

VN sê dat Turkye die gewete van sy burgers moet respekteer

Miljoene Christene weier op grond van hulle gewete om die wapen op te neem—en baie nasies respekteer hierdie besluit. Die VN se Menseregtekomitee het beslis dat Turkse burgers dieselfde vryheid verdien.

Op 29 Maart 2012 het die Komitee ’n beslissing ten gunste van twee Turkse burgers, Cenk Atasoy en Arda Sarkut, geneem. Albei mans is Jehovah se Getuies wat weens hulle godsdiensoortuiging geweier het om militêre diens te verrig.

Mnr. Atasoy en mnr. Sarkut het herhaaldelik versoeke by regeringskantore ingedien om hulle gewetensbesluit te verduidelik, en hulle het aangebied om niemilitêre diens te verrig. Daar is nietemin meedoënlose druk op die mans uitgeoefen om by die weermag aan te sluit. Nadat die weermag gedreig het om kriminele aanklagte aanhangig te maak teen die universiteit waar mnr. Sarkut as ’n assistentlektor gewerk het, het hy sy werk verloor.

Die Komitee het in sy beslissing gesê dat die reg om gewetenshalwe teen militêre diens beswaar te maak, “inherent is aan die reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens,” wat opgesluit lê in Artikel 18 van die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte. Verder het die Komitee beslis dat hierdie reg “enige persoon die reg gee op vrystelling van verpligte militêre diens as laasgenoemde nie met daardie persoon se godsdiens of oortuigings versoen kan word nie.

Hierdie beslissing volg kort op twee verwante uitsprake deur die Europese Hof van Menseregte. In een van hierdie uitsprake het die Hof beslis dat “die afwesigheid van ’n alternatief tot militêre diens in Turkye ’n skending is van die reg op gewetensbeswaar”, wat in die Europese Konvensie oor Menseregte gewaarborg word.

Gewetensbeswaar teen militêre diens is so oud soos die Christelike godsdiens self. E.W. Barnes het in sy boek The Rise of Christianity geskryf: “’n Noukeurige oorsig van al die beskikbare inligting [toon] dat geen Christen tot die tyd van Markus Aurelius [Romeinse keiser van 161 tot 180 HJ] ’n soldaat geword het nie; en dat geen soldaat, nadat hy ’n Christen geword het, in militêre diens aangebly het nie.