Spring na inhoud

Broer Maksat Joemadoerdijef

28 JANUARIE 2021
TURKMENISTAN

Broer Maksat Joemadoerdijef word vir ’n tweede keer tronk toe gestuur vir sy geloof

Broer Maksat Joemadoerdijef word vir ’n tweede keer tronk toe gestuur vir sy geloof

Uitspraak

Op 18 Januarie 2021 het ’n hof in Turkmenistan broer Maksat Joemadoerdijef skuldig bevind. Hy is tot twee jaar tronkstraf gevonnis vir gewetensbeswaar.

Profiel

Maksat Joemadoerdijef

  • Gebore: 2000 (Seidi, Lebap-streek)

  • Agtergrond: Het twee susters. Is ’n voorbeeldige student. Hou daarvan om sport te speel. Is goed daarin om te teken en te verf. Staan bekend in die gemeenskap dat hy nederig, eerlik en hardwerkend is

    Het die Bybel in 2018 begin studeer. Gedoop in 2019. Die enigste een in sy gesin wat een van Jehovah se Getuies is

Geskiedenis van saak

Broer Maksat Joemadoerdijef het alreeds ’n tronkstraf van een jaar uitgedien omdat hy geweier het om militêre diens te doen. Hy is op 17 Julie 2019 vrygelaat. Maar in Turkmenistan kan gewetensbeswaardes twee keer van dieselfde misdaad aangekla word. Daarom is Maksat in Maart 2020 weer vir militêre diens opgeroep. Hy het ’n brief geskryf waarin hy verduidelik het hoekom hy weier om militêre diens te doen, al het hy geweet dat hy heel moontlik weer tronk toe gestuur sou word.

Nadat Maksat ’n paar keer ondervra is en deur ’n dokter ondersoek is, is hy op 30 Desember 2020 in kennis gestel dat nog ’n kriminele saak teen hom gemaak is. Die owerheid het ook sy paspoort weggeneem.

Sy eerste hofsaak en tronkstraf was baie moeilik. Maksat sê: “Toe ek in 2018 tronk toe gestuur is, was die moeilikste ding vir my om weg te wees van my ouers. . . . Omdat my ouers nie Jehovah se Getuies is nie, het hulle gesê dat hulle my nie sou ondersteun as ek weier om militêre diens te doen nie.”

Maksat verduidelik: “Die woorde in Markus 10:29, 30 het my gehelp toe ek nie by my familie en vriende kon wees nie. Jesus het gesê dat as ons iets ter wille van hom of van die goeie nuus verloor het, ons honderd keer meer sal terugkry.”

Gedurende sy tyd in die tronk het Maksat baie keer gesien hoe Jehovah sy gebede vinnig beantwoord het en hom gehelp het om uit moeilike situasies te kom. Maksat het baie gedink aan die woorde in Josua 1:9, wat sê: “Wees moedig en sterk. Moenie bang wees of vrees nie, want Jehovah jou God is met jou waar jy ook al gaan.”

Voor sy tweede verhoor het Maksat gesê dat hy vasbeslote is om na sy Bybelopgeleide gewete te luister. Hy het gesê: “Selfs al gaan ek vir ’n tweede keer tronk toe, het ek geloof dat Jehovah my sal help, maak nie saak wat die situasie is nie. Die raad in Filippense 4:6, 7 help my om moedig te wees en kalm te bly.”

Ons hou aan bid vir ons broer, Maksat, en ander moedige jong broers wat hulle standpunt vir Jehovah se soewereiniteit inneem. Ons is oortuig dat Jehovah die getrouheid van ons broers in die tronk ryklik sal beloon. – Openbaring 2:10.