Spring na inhoud

3 NOVEMBER 2020
TURKMENISTAN

Broer Petrosof vrygelaat ná een jaar tronkstraf in Turkmenistan

Broer Petrosof vrygelaat ná een jaar tronkstraf in Turkmenistan

Dawid Petrosof is ’n 19-jarige broer wat in Turkmenistan bly. Hoewel hy nog ’n tiener is, het hy ’n groot toets van sy geloof deurgegaan. Hy was een jaar in die tronk omdat hy gewetensbeswaar teen militêre diens het. Hy is op 30 September 2020 vrygelaat.

Broer Petrosof sê: “Party dae het ek baie hartseer gevoel in die tronk. Maar Jehovah het my vertroos deur middel van sy Woord. Omdat ek geweet het dat Jehovah my gevoelens verstaan en gereed was om my te vertroos, het dit my gemotiveer om tot hom te bid. Verskillende verse het my in verskillende situasies gehelp, maar ek het gereeld gedink aan Filippense 4:13.”

Broer Petrosof is in Asjgabat, die hoofstad van Turkmenistan, gebore. Terwyl hy grootgeword het, het hy geleer om die kitaar te speel. Hy geniet dit om liedjies te skryf en tyd buite te spandeer, soos om sokker te speel, in die berge te gaan stap en in mere daar naby te swem.

Nadat ’n klasmaat, wat een van Jehovah se Getuies is, die Bybel met hom studeer het, is hy in 2019 gedoop. Hoewel nie een van Dawid se familielede Getuies is nie, respekteer hulle sy oortuigings en sy geloof in God.

Kort nadat Dawid gedoop is, moes hy in die hof verskyn omdat hy weier om militêre diens te doen. Daar is geen alternatiewe burgerlike diens in Turkmenistan nie. Daarom het die owerheid hom tot een jaar tronkstraf gevonnis.

Gedurende sy een jaar tronkstraf het Jehovah broer Petrosof die ondersteuning gegee wat hy nodig gehad het. Broer Petrosof vertel: “Toe ek in die tronk was, het my ma groete van die broers en susters saamgebring wat nie kon kom nie. Sy het gesê dat die broers en susters die heeltyd vir my bid. Dit het my baie gelukkig gemaak.”

Volgens die wet in Turkmenistan weet Dawid dat hy vir ’n tweede keer vir militêre diens opgeroep kan word. As hierdie wet toegepas word, kan hy heel moontlik skuldig bevind en erger gestraf word.

Dawid sê: “Net soos enige ander persoon wil ek nie teruggaan tronk toe nie. Maar ek is nie bang nie. My geloof in Jehovah, my broers en susters en ons Koninkryksliedjies maak my moedig.”

Ons is vol vertroue dat Jehovah Dawid die geloof en moed sal gee wat hy nodig het. Ons bid vir die tien broers in Turkmenistan wat nog steeds in die tronk is vir gewetensbeswaar. Ons weet dat Jehovah hulle liefhet, onthou en ondersteun. – Psalm 69:33.