Spring na inhoud

Broer Roeslan Artikmiradof

11 JANUARIE 2021
TURKMENISTAN

Broer Roeslan Artikmiradof sal dalk vir ’n tweede keer tronk toe gaan vir gewetensbeswaar

Broer Roeslan Artikmiradof sal dalk vir ’n tweede keer tronk toe gaan vir gewetensbeswaar

Datum van uitspraak

’n Turkmeense militêre hof sal binnekort a sy uitspraak oor broer Roeslan Artikmiradof bekend maak. Hy sal dalk tot twee jaar tronkstraf kry vir gewetensbeswaar. Hy is al vanaf 15 Desember 2020 in voorverhoor-aanhouding. Dit is die tweede keer dat hy tronk toe gestuur kan word vir sy neutraliteit.

Profiel

Roeslan Artikmiradof

  • Gebore: 2000 (die dorpie Alpan Gengesjlik)

  • Agtergrond: Het op die platteland grootgeword. Het in ’n motorwerkswinkel gewerk. Was ’n goeie student en geniet dit om sokker te speel

    Sy ma het hom geleer om volgens Bybelbeginsels te lewe. Die liefde en eenheid onder Jehovah se Getuies het hom beïndruk en hy is in 2015 op die ouderdom van 15 gedoop. As gevolg van sy liefde vir Jehovah God weier hy om militêre diens te doen

Geskiedenis van saak

Op 13 Augustus 2018 moes broer Roeslan Artikmiradof, wat toe 18 was, vir een jaar tronk toe gaan omdat hy geweier het om militêre diens te doen. Hy is op 12 Augustus 2019 vrygelaat nadat hy sy hele vonnis uitgedien het.

Volgens die Turkmeense wet kan ’n jong man twee keer vervolg word vir gewetensbeswaar. Daarom is Roeslan in November 2020 weer vir militêre diens opgeroep.

Roeslan het weer geweier om militêre diens te doen al het hy goed geweet dat hy vir ’n tweede keer tronk toe gestuur kon word. Hy is op 15 Desember 2020 gearresteer en is in aanhouding geplaas terwyl hy vir sy verhoor wag.

Roeslan is vasbeslote om lojaal aan Jehovah te bly. Hy sê oor sy eerste keer in die hof: “Ek was nie bang nie al het ek geweet dat dit ’n moeilike hofsaak sou wees en dat ek onregverdig behandel sou word. Ek sou my vreugde en geestelike dinge vir niks verruil nie.”

Dinge in die tronk was nie vir Roeslan maklik nie. Die toestande was aaklig en hy was baie keer mishandel. Tog het hy altyd gesien hoe Jehovah hom help. Roeslan sê: “Terwyl ek in die tronk was, het ek die hele tyd Jehovah se hand in dinge gesien. Byvoorbeeld, ek het gesien hoe Jehovah my ondersteun wanneer ek geslaan is. Die eerste hou was seer, maar daarna het ek niks gevoel nie.” En die liefdevolle ondersteuning van die plaaslike broers en susters het hom nie net versterk nie, maar dit was ook ’n kragtige getuienis vir dié om hom.

Al sal hy dalk weer tronk toe moet gaan, bly Roeslan vol vertroue en verduidelik hy: “Ek het sterk geloof dat Jehovah my sal beloon. . . . Waar daar ’n sterk hoop is, is daar eindelose vreugde; en waar daar vreugde is, is daar krag en volharding. En ’n sterk persoon kan nooit afgebreek word nie.”

Ons waardeer die voorbeeld van Roeslan en ander moedige jongmense wat weer eens net bewys dat Jehovah ons die krag sal gee om enige toets met moed en vreugde te hanteer. En ons weet dat hulle rotsvaste lojaliteit aan God se Koninkryk beloon sal word. – Hebreërs 11:6.

a Die datum van die uitspraak is nie altyd voor die tyd bekend nie.