Spring na inhoud

Broer Selim Taganof

24 NOVEMBER 2020
TURKMENISTAN

Broer Taganof vrygelaat in Turkmenistan nadat hy tronkstraf van een jaar uitgedien het

Broer Taganof vrygelaat in Turkmenistan nadat hy tronkstraf van een jaar uitgedien het

Nadat broer Selim Taganof op 3 Oktober 2020 uit die tronk vrygelaat is, het hy gesê: “Wanneer ek tot Jehovah gebid het, het hy my gehelp om kalm te bly.” Selim is net 19 jaar oud, maar hy het alreeds ’n tronkstraf van een jaar uitgedien as gevolg van gewetensbeswaar teen militêre diens.

Selim is in Asjgabat, die hoofstad van Turkmenistan, gebore. As ’n kind was hy ’n goeie student en het hy ’n liefde vir musiek ontwikkel. Hy skryf liedjies, sing en speel die kitaar. Selim se ouers, twee broers en vriende beskryf hom as vriendelik, saggeaard en gelukkig. Voordat hy skuldig bevind is, het sy regsgeleerde, wat deur die hof aangestel is, gesê: “Hy is ’n goeie, ordentlike seun wat nie rook of alkohol misbruik nie en wat nou net skool klaargemaak het. Tyd in die tronk kan net sy lewe verwoes.”

Die lewe in die tronk was definitief moeilik. Maar Selim verduidelik: “Gedurende my tyd in die tronk het my verhouding met Jehovah sterker geword. Ek het die Bybelwaarhede wat ek by die huis geleer het, onthou, en ek het dit beter begin verstaan. Bybeltekste soos Jesaja 41:10, 11 het my ook aangemoedig.

“Terwyl ek in die tydelike detensie-sentrum was en vir my uitspraak gewag het, was dit moeilik omdat daar niemand was met wie ek my bekommernisse kon deel nie. Maar ek het tot Jehovah gebid vir hulp. Daarna het mense in die tronk en wagte wat eers vyandig teenoor my was, my begin ondersteun en my selfs aangemoedig. Dit alles het my oortuig dat Jehovah my ondersteun.”

Selim is ook deur plaaslike broers en susters versterk. Hy sê: “Toe ek in die tronk was, het baie groete en aanmoedigende gedagtes vir my gestuur. Ek het hierdie gedagtes probeer memoriseer en dit dan herhaal. Dit het my hart bly gemaak en my vertroos.”

Volgens die wet in Turkmenistan kan Selim weer opgeroep word vir militêre diens. As dit gebeur, weet Selim dat hy volgende keer ’n langer tronkstraf kan kry. Hy sê: “Nadat ek met Jehovah se hulp deur hierdie hofsaak gegaan het, is ek nie meer bang nie. Jehovah se ondersteuning gee my moed en vertroue.”

Ons almal verwag om uitdagings in die toekoms te hê. Selim moedig ons aan: “Vir almal wat soortgelyke toetse sal hê, onthou die woorde in Jesaja 30:15: ‘Julle krag sal daarin lê dat julle kalm bly en vertroue het.’”