Spring na inhoud

Broer Eziz Atabajef nadat hy uit die tronk vrygelaat is

14 JANUARIE 2021
TURKMENISTAN

“Ek het hierdie moeilike tyd met Jehovah se hulp verduur”

“Ek het hierdie moeilike tyd met Jehovah se hulp verduur”

Broer Eziz Atabajef het getrou ’n twee jaar tronkstraf in Turkmenistan verduur as gevolg van sy gewetensbeswaar teen militêre diens. Hy is op 19 Desember 2020 vrygelaat. Oor die afgelope tien jaar is 46 broers in hierdie land tronk toe gestuur vir gewetensbeswaar.

In 2016 is broer Atabajef opgeroep vir militêre diens. Hy het geweier om by die weermag aan te sluit as gevolg van sy gewetensbeswaar. Sy saak is na die stadsaanklaer se kantoor aangestuur. Ná amper twee jaar is Eziz beveel om na die verhoor te kom. Op 19 Desember 2018 het die hof hom tot twee jaar tronkstraf gevonnis.

Eziz sê: “Voordat ek tronk toe gestuur is, het ek baie met broers gepraat wat verhoor is omdat hulle geweier het om militêre diens te doen of wat tronk toe is vir daardie rede. Hulle het my gehelp om te weet wat om te verwag. Ek het verskillende lewensverhale in ons publikasies gelees. Ek het ook aanmoedigende verse in die Bybel gelees.

“Die oggend van my verhoor het ’n broer Jesaja 30:15 vir my gelees, waar dit sê: ‘Julle krag sal daarin lê dat julle kalm bly en vertroue het.’ Hierdie vers het my altyd gehelp om kalm te bly en om op Jehovah vir alles te vertrou. Om oor hierdie vers na te dink, het my die hele tyd gehelp terwyl ek in die tronk was.”

Al was toestande in die tronk moeilik, was Eziz se grootste uitdaging om weg van sy familie te wees. “Toe ek in die tronk was, het ek nader gekom aan my geestelike broers wat saam met my in die tronk was. Hulle het regte vriende geword en my gehelp wanneer ek na my familie en vriende verlang het.”

Eziz het ook van die geleentheid gebruik gemaak om vir ander te vertel waarin hy glo. Hy sê: “Aan die begin wou party wat in die tronk was, nie na my luister nie. Maar later het hulle toe na my geluister. Nuwe mense wat tronk toe gekom het en my nie geken het nie, wou ook nie eers na my luister nie. Maar die ander mense vir wie ek reeds gepreek het, het my kant gekies en het met die nuwe mense gepraat oor wat hulle geleer het.”

Om vir moeilike tye in die toekoms voor te berei, sê Eziz: “Ek moedig julle aan om goeie persoonlike studie te doen en om openlik met Jehovah in gebed te praat. Jy moet vir hom alles vertel wat jou bekommer – jou vrese en jou gevoelens. Jy moet Jehovah alles vertel.

“Ek het hierdie moeilike tyd met Jehovah se hulp verduur. Ek twyfel nie dat Jehovah my weer sal help nie. Ek is nie bang vir moeilike tye in die toekoms nie.” – Psalm 118:6.