Spring na inhoud

Aibek Salajef, Matkarim Aminof en Bahram Sjamoeradof  was party van die Getuies wat amnestie gekry het

13 NOVEMBER 2014
TURKMENISTAN

Turkmenistan laat Jehovah se Getuies vry wat weens hulle geloof opgesluit is

Turkmenistan laat Jehovah se Getuies vry wat weens hulle geloof opgesluit is

In ’n verbasende ommekeer van gebeure het president Goerbangoeli Berdimoehamedof amnestie verleen aan agt van Jehovah se Getuies wat in Turkmenistan weens hulle geloof opgesluit is. Hulle is op 22 Oktober 2014 saam met ander gevangenes vrygelaat. Ses van die Getuies is opgesluit weens hulle gewetensbeswaar teen diensplig, en twee weens valse aanklagte in verband met godsdiensbedrywighede.

Merdan Amanof en Pawel Paimof

Die gewetensbeswaardes, jong mans tussen die ouderdomme van 18 en 23, is opgesluit in die Seidi-strafkolonie, wat in die Turkmeense woestyn geleë is. Vier van die mans was in die gewone strafkamp, maar Matkarim Aminof en Dowran Matjakoebof was in ’n strafkamp met strenger reëls omdat hulle herhaaldelik skuldig bevind is aan dieselfde oortreding. Terwyl hulle in die tronk was, het hierdie jong mans mishandeling en ellendige lewensomstandighede verduur.

Die twee Getuies wat weens valse aanklagte opgesluit is, die 35-jarige Aibek Salajef en die 42-jarige Bahram Sjamoeradof, was ook in die gewone strafkamp by Seidi. Albei is tronkvonnisse van vier jaar opgelê weens hulle godsdiensoortuigings en -bedrywighede. Hulle is nie net ten onregte in die tronk gesit op grond van vervalste bewyse nie, maar is ook erg mishandel in die tronk.

Amirlan Tolkatjef

Net een Getuie, Ruslan Narkoelief, is nog in die tronk in Turkmenistan. Hy is net ’n paar weke voor die amnestie gevonnis weens sy gewetensbeswaar teen diensplig, en die Presidensiële Administrasie het moontlik nog nie sy naam ontvang toe die amnestie aangekondig is nie. Sy regsverteenwoordigers werk saam met die owerheid in Turkmenistan om sy vrylating te verseker.

President Berdimoehamedof het prysenswaardig en beslissend opgetree toe hy amnestie verleen het aan hierdie agt manne van geloof wat in die tronk was. Diegene wat godsdiensvryheid hoog op prys stel, hoop dat dit ’n voorloper van verandering in Turkmenistan is, ’n verandering wat Jehovah se Getuies sal toelaat om in ooreenstemming met hulle gewete te lewe sonder om vervolging of opsluiting te vrees.