Spring na inhoud

22 SEPTEMBER 2014
TURKMENISTAN

Ma vrygelaat uit tronk in Turkmenistan

Ma vrygelaat uit tronk in Turkmenistan

Bibi Rahmanowa en haar gesin

Bibi Rahmanowa het om agtuur die aand op 2 September 2014 uit die tronk gestap—sy was vry om te gaan, maar sy is nie van die aanklagte vrygespreek nie. Vroeër daardie dag het die regters van die Dasjogoez-streekhof haar appèl oorweeg. Hoewel hulle Bibi nie van die valse aanklagte vrygespreek het nie, het hulle haar tronkstraf van vier jaar verander na ’n voorwaardelike vonnis * en beveel dat sy onmiddellik uit die tronk vrygelaat word. Die beslissing het gesê dat daar versagtende omstandighede was wat die regters in ag geneem het—naamlik dat Bibi ’n vrou en die ma van ’n vierjarige seuntjie is en dat dit die eerste keer was dat sy gevonnis is.

Bibi het die hof versoek om die saak te hersien nadat sy op 18 Augustus op valse aanklagte van “straatboewery” en “die aanranding van ’n polisieman” skuldig bevind is. Die polisie het Bibi en haar man, Wepa, op 5 Julie by ’n treinstasie in Dasjogoez voorgekeer nadat hulle hulle bagasie, waarin daar ook godsdienslektuur was, gaan haal het. Die aanklagte teen Wepa is later laat vaar. Bibi is egter op 8 Augustus tronk toe gestuur. In die tronk het Bibi ernstige fisiese mishandeling verduur.

Onregte in Turkmenistan in die kollig

Bibi se buitelandse regsverteenwoordiger skryf haar onverwagte vrylating ten minste gedeeltelik toe aan die internasionale verontwaardiging oor haar wederregtelike opsluiting.

Sy is nie die enigste Getuie van Jehovah in Turkmenistan wat so ’n ondervinding gehad het nie. Getuies ervaar gereeld ernstige skendings van hulle fundamentele menseregte. Agt Getuies is in die tronk weens hulle geloof—ses as gewetensbeswaardes en twee weens valse aanklagte. Hulle verduur droewige omstandighede en verskillende vorme van mishandeling.

Dit is prysenswaardig dat die regters van die Dasjogoez-streekhof Bibi se situasie verbeter het, maar hulle het versuim om ’n onreg reg te stel. Diegene vir wie die waardigheid van mense belangrik is, hoop dat owerhede in Turkmenistan die groter prentjie sal sien en internasionale standaarde van menseregte sal toepas sodat mense in hulle land godsdiensvryheid sal kan geniet.

^ par. 2 Die streekhof het haar tronkvonnis van vier jaar opgeskort en haar ’n voorwaardelike vonnis van vier jaar opgelê, wat ’n drie jaar lange parooltydperk insluit. Gedurende hierdie tyd moet sy wetsgehoorsaam wees en nie die stad waar sy bly, sonder die toestemming van die owerheid verlaat nie.