Spring na inhoud

27 AUGUSTUS 2014
TURKMENISTAN

Die ma van ’n vierjarige in Turkmenistan word ten onregte tronkstraf opgelê

Die ma van ’n vierjarige in Turkmenistan word ten onregte tronkstraf opgelê

In ’n tydelike hofsaal in Dasjogoez, Turkmenistan, het die regter Gagisiz Orazmoeradof die 33-jarige Bibi Rahmanowa ten onregte tot tronkstraf gevonnis op grond van valse aanklagte. Op 18 Augustus is Bibi, die ma van ’n vierjarige seuntjie, skuldig bevind aan “die aanranding van ’n polisieman” en “straatboewery”. * Die regter het haar ’n baie swaar straf opgelê—vier jaar in ’n tronk vir misdadigers.

Inhegtenisneming by die treinstasie

Bibi se beproewing het op die aand van 5 Julie 2014 begin, toe sy en haar man, Wepa Toewakof, en hulle seuntjie godsdienslektuur en persoonlike besittings wat ’n vriend van Asjgabad gestuur het, by ’n treinstasie in Dasjogoez gaan haal het. Kort nadat die Toewakofs die bagasie gaan kry het, het ses polisiemanne in gewone klere hulle voorgekeer en daarop aangedring om die inhoud van die sakke te sien. Toe hulle ’n skootrekenaar en godsdienslektuur van Jehovah se Getuies gevind het, het die polisie op hulle geskreeu en hulle gevloek en gedreig dat hulle seuntjie binnekort ’n weeskind sou wees.

Bibi het die voorval met haar selfoon begin opneem en die foon onder haar bloes weggesteek toe die polisiemanne dit probeer vat het. Die polisiemanne het haar aan haar hare gegryp, haar geskop en geslaan en haar hande vasgehou. Terwyl hulle haar vasgehou het, het een polisieman haar bloes opgelig en onbetaamlik aan haar gevat toe hy die selfoon probeer kry het. Bibi het haar teen die aanvalle probeer verdedig, maar sy het nie inhegtenisneming teëgestaan of die polisie aangeval nie.

Bibi en Wepa saam met hulle seuntjie

Die polisiemanne het die Toewakof-gesin toe na die polisiestasie geneem. Die polisie het geëis dat Wepa ’n verklaring teken wat hulle saamgestel het. Hy het geweier. Die polisie het hom herhaaldelik geslaan terwyl Bibi en hulle seuntjie in ’n ander vertrek was. Wepa het nogtans geweier om te teken. Bibi het ook geweier om die verklaring te teken en is ook geslaan. Die polisie het Bibi en haar seuntjie oornag aangehou en hulle eers die volgende dag vrygelaat. * Nadat Bibi ’n klag ingedien het by Turkmeense beamptes, is Wepa ’n paar dae later, op 11 Julie, vrygelaat. Ten spyte hiervan het die stadspolisie van Dasjogoez kort daarna ’n strafregtelike ondersoek teen Bibi sowel as haar man ingestel.

Inhegtenisneming, opsluiting en die verhoor

Bibi is op 6 Augustus aangekla, op 8 Augustus in ’n aanhoudingsentrum gesit en op 18 Augustus voor die hof gebring. Gedurende die verhoor was dit duidelik dat die regter Orazmoeradof bevooroordeeld was. Hy het Bibi se prokureur herhaaldelik in die rede geval terwyl sy haar kliënt probeer verdedig het. Toe die polisie ’n teenstrydige getuienis gelewer het, het die regter Bibi se prokureur verhinder om hulle te ondervra. Die regter het Wepa ook gekeer toe hy getuig het van hoe wreed Bibi deur die polisie behandel is en het geweier om na die oudio-opname van die voorval te luister. Die regter het Bibi skuldig bevind en haar tot vier jaar tronkstraf gevonnis.

Bibi moet teen 28 Augustus appèl aanteken, en tot dan word sy aangehou in die DZD-7-aanhoudingsentrum. As haar aansoek van die hand gewys word, sal sy verskuif word na ’n tronk vir misdadigers, waarskynlik in die woestyn in Seidi. Sy sal nie net haar vryheid ontneem word nie, maar ook die geleentheid om haar seuntjie gedurende sy vormingsjare te lei en te versorg.

Hoewel Wepa nog nie amptelik aangekla is nie, is dit baie waarskynlik dat hy aangekla, op grond van valse beskuldigings verhoor en ten onregte tot tronkstraf gevonnis sal word. As dit gebeur, sal hulle seuntjie nie net sonder ’n ma wees nie, maar ook sonder ’n pa. Daar is geen geldige rede vir hierdie onreg nie.

’n Pleidooi vir geregtigheid

Turkmenistan mishandel Jehovah se Getuies al lank en ontsê hulle hulle basiese menseregte. Jehovah se Getuies regoor die wêreld, asook baie ander wat die waardigheid van mense en die reg om vryelik te aanbid, respekteer, hoop dat die regering van Turkmenistan hierdie onregte sal regstel.

^ par. 2 Straatboewery tesame met verset teen ’n polisiebeampte is strafbaar met ’n tronkvonnis van tot vyf jaar.

^ par. 6 Op die oggend van 6 Julie is ’n familielid toegelaat om hulle seuntjie te kom haal; Bibi is later daardie dag vrygelaat.