Spring na inhoud

Bahram saam met sy vrou, Goelzira

24 OKTOBER 2016
TURKMENISTAN

Sal Bahram Hemdemof met die volgende amnestie vrygelaat word?

Sal Bahram Hemdemof met die volgende amnestie vrygelaat word?

In Februarie 2016 het die regering van Turkmenistan ’n amnestie verklaar wat beteken dat honderde gevangenes vrygelaat is. Maar Bahram Hemdemof is nie vrygelaat nie. Minder as drie maande later het die Hooggeregshof van Turkmenistan ’n appèl teen sy kriminele skuldigbevinding en opsluiting verwerp. Op 15 Augustus 2016 het mnr. Hemdemof se prokureur namens hom ’n klag by die VN se Menseregtekomitee ingedien.

Godsdiensvervolging van Jehovah se Getuies in Turkmenabad

Mnr. Hemdemof is in Maart 2015 in hegtenis geneem terwyl hy besig was om ’n vreedsame godsdiensvergadering saam met ander Getuies in sy huis in Turkmenabad te hou. Die polisie het sonder ’n lasbrief opgedaag, by sy huis ingestorm en dit deursoek, persoonlike besittings gevat en almal wat daar was mishandel.

Mnr. Hemdemof se prokureur sê: “Die polisie het Bahram Hemdemof die teiken van wrede mishandeling gemaak om ander Getuies in Turkmenabad te dreig en te intimideer.” Ten spyte van die mishandeling deur die owerheid het mnr. Hemdemof nie sy oortuigings prysgegee nie.

Kanse op vrylating

Jehovah se Getuies hoop dat die regering van Turkmenistan mnr. Hemdemof binnekort sal vrylaat. Dit sal ’n bewys van goedgunstigheid wees deur President Goerbangoeli Berdimoehamedof wees as hy mnr. Hemdemof vrylaat wanneer hy weer amnestie verleen.

Mnr. Hemdemof se vrou, Goelzira, en hulle vier kinders mis hom vreeslik. Hulle en ander Getuies in die gemeenskap sien baie daarna uit om hom by die huis terug te verwelkom. Die Getuies in Turkmenistan versoek die regering om hulle toe te laat om in vrede saam te aanbid sonder dat die plaaslike owerheid inmeng.