Spring na inhoud

24 NOVEMBER 2015
TURKMENISTAN

Turkmenistan vonnis Bahram Hemdemof tot vier jaar tronkstraf vir godsdiensbedrywighede

Turkmenistan vonnis Bahram Hemdemof tot vier jaar tronkstraf vir godsdiensbedrywighede

Op 19 Mei 2015 het ’n hof in Turkmenistan die 52-jarige Bahram Hemdemof, een van Jehovah se Getuies, tot vier jaar tronkstraf gevonnis. Die polisie het mnr. Hemdemof twee maande vroeër in hegtenis geneem omdat hy ’n vreedsame godsdiensvergadering in sy huis in Turkmenabad gehou het. Hy word tans in ’n strafkamp in die dorp Seidi aangehou.

Klopjag tydens ’n godsdiensvergadering

Op 14 Maart 2015 het die polisie ’n klopjag gedoen op mnr. Hemdemof se huis terwyl ’n godsdiensvergadering daar gehou is. Hulle het al 38 wat in die huis was, mishandel en geïntimideer en hulle van onwettige godsdiensbedrywighede aangekla. Die polisie het mnr. Hemdemof in verhoorafwagtende aanhouding geplaas, en hulle het hom herhaaldelik ondervra en geslaan. Die owerheid het beslag gelê op persoonlike besittings, insluitende ’n motor, ’n rekenaar en kontant.

Die distrikshof in Serdarabad het later 30 Getuies beboet en 8 van hulle tot 15 dae tronkstraf gevonnis. Mnr. Hemdemof se seun, Serdar, is twee vonnisse van 15 dae lange tronkstraf opgelê, waartydens hy in afsondering aangehou, ondervra en wreed geslaan en gemartel is. ’n Ander Getuie, Emirdzjan Dzjoemnazarof, is ook twee vonnisse van 15 dae lange tronkstraf opgelê en is geslaan en met marteling gedreig.

Op 19 Mei 2015 het regter Gotsjmoerad Tsjarjef van die streekhof in Lebap Bahram Hemdemof tot vier jaar tronkstraf gevonnis op valse aanklagte van “aanstigting tot godsdienshaat”. Hy is op 10 Junie 2015 van Turkmenabad na die strafkamp in Seidi oorgeplaas.

Die tronkbewaarder het geweier dat enigiemand mnr. Hemdemof in die tronk besoek—insluitende gesinslede—totdat die tyd verstryk het waartydens hy appèl kon aanteken. Die tronkbewaarder het mnr. Hemdemof of ’n verteenwoordiger dus daarvan weerhou om appèl teen die skuldigbevinding aan te teken. Vandat hy opgesluit is, het beamptes druk op hom uitgeoefen om op valse aanklagte skuld te erken, hom aan harde arbeid onderwerp en hom wreed geslaan omdat sy vrou geregtelike klagtes namens hom ingedien het.

Goelzira Hemdemofa, Bahram se vrou, het ’n beroep gedoen op die Hooggeregshof van Turkmenistan. Hoewel daar geen bewys van ’n misdaad was nie, het die adjunk-voorsitter van die Hooggeregshof haar aansoek verwerp. Vroeg in Augustus het mnr. Hemdemof se prokureur appèl aangeteken. Op 25 Augustus 2015 het die Hooggeregshof die appèl van die hand gewys omdat mnr. Hemdemof “die godsdiensopvattings van Jehovah se Getuies bevorder”.

“Die owerhede in Turkmenistan het ernstige onregte op elke vlak gepleeg. ... Dit is onverklaarbaar waarom die Hooggeregshof van Turkmenistan nie die onreg wat Bahram Hemdemof aangedoen is, reggestel het nie.”—Philip Brumley, hoofregsadviseur.

Veldtog van mishandeling in Turkmenabad

Teen die einde van 2014 het dit gelyk of die owerheid in Turkmenistan verdraagsamer word teenoor die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies. In September 2014 het die owerheid Bibi Rahmanowa vrygelaat nadat sy in Augustus 2014 op valse aanklagte opgesluit is. Agt ander Getuies wat opgesluit is omdat hulle hulle geloof beoefen het, is presidensiële amnestie toegestaan en in Oktober 2014 vrygelaat. Ondanks hierdie positiewe verwikkelinge is sommige plaaslike owerhede nog steeds onverdraagsaam teenoor Jehovah se Getuies in Turkmenabad en word party van hulle in hegtenis geneem, aangehou en mishandel.

Op 6 Februarie 2015 het die polisie vier van Jehovah se Getuies in hegtenis geneem—Viktor Jarigin, Roestam Nazarof, Tsjarigeldi Dzjoemaef en Jamilja Adilowa. Hulle is aangekla van “geringe straatboewery” omdat hulle godsdienslektuur in hulle besit gehad het. Beamptes van die Departement van Staatsveiligheid het drie van die Getuies, insluitende me. Adilowa, geslaan. Hulle het mnr. Dzjoemaef so erg geslaan dat hy verskeie kere sy bewussyn verloor het. Turkmenabad se Stadshof het mnr. Jarigin beboet, mnr. Nazarof tot 30 dae tronkstraf gevonnis en mnr. Dzjoemaef en me. Adilowa elk tot altesaam 45 dae tronkstraf gevonnis. * Die vier Getuies het formele klagtes ingedien by die Administrasie van die President en die Hoofaanklaerskantoor in Asjgabad.

Twee weke later het die polisie ’n klopjag gedoen op die huis van Zeinep Hoesainowa op soek na “onwettige” godsdienslektuur. Hulle het beslag gelê op haar persoonlike godsdienslektuur en gedreig om haar te vervolg en 15 dae lank op te sluit.

’n Ander Getuie, Dowlet Kandimof, is aangekla van onwettige godsdiensbedrywighede en vir drie opeenvolgende 15 dae lange vonnisse aangehou. Terwyl hy in aanhouding was, het die beamptes hom herhaaldelik geslaan omdat hy geweier het om getuienis af te lê teen Bahram Hemdemof, sy medegelowige.

Sal Turkmenistan waarborge van godsdiensvryheid gestand doen?

Sedert die lente van 2015 is Jehovah se Getuies nie deur die owerheid in Turkmenabad lastig geval nie. Maar Bahram Hemdemof is nog steeds in die tronk net omdat hy sy godsdiens beoefen het.

Bahram en sy vrou, Goelzira, en een van hulle seuns

Vreedsame godsdiensbedrywighede, insluitende dié van Jehovah se Getuies, behoort wetlike beskerming in Turkmenistan te hê. Die grondwet van die land waarborg die reg om “enige godsdiens alleen of saam met ander te beoefen” en “die reg op vryheid van oortuiging en om daardie oortuigings vryelik uit te druk”. Verder het Turkmenistan die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte bekragtig, wat ook vryheid van denke, gewete en godsdiens waarborg.

Philip Brumley, hoofregsadviseur vir Jehovah se Getuies, het gesê:

Die owerhede in Turkmenistan het ernstige onregte op elke vlak gepleeg. Polisiebeamptes in Turkmenabad het onwettig en gewelddadig opgetree toe hulle ’n klopjag uitgevoer het tydens ’n vreedsame godsdiensvergadering. Die howe in Turkmenabad het hierdie onwettige optrede goedgekeur. Dit is onverklaarbaar waarom die Hooggeregshof van Turkmenistan nie die onreg wat Bahram Hemdemof aangedoen is, reggestel het nie.

Jehovah se Getuies doen ’n eerbiedige beroep op die regering van Turkmenistan om hulle wetlik te registreer, vreedsame aanbidding toe te laat en die soort mishandeling wat vroeër vanjaar in Turkmenabad plaasgevind het, te beëindig. Ons versoek die regering om mnr. Bahram Hemdemof vry te laat.

Jehovah se Getuies is dankbaar teenoor die regering van Turkmenistan dat hulle gevangenes in die verlede vrygelaat het om onregte reg te stel. Met dit in gedagte moet die regering dit oorweeg om Bahram Hemdemof vry te laat en hulle vir groter godsdiensverdraagsaamheid te beywer.

^ par. 11 Volgens die Administratiewe Wet van Turkmenistan is die maksimum vonnis vir “geringe straatboewery” 15 dae tronkstraf. Maar die hof het mnr. Dzjoemaef en me. Adilowa tot drie afsonderlike termyne van 15 dae tronkstraf gevonnis.