Spring na inhoud

Kerwen Kakabajef — tot een jaar tronkstraf gevonnis vir gewetensbeswaar

28 MAART 2018
TURKMENISTAN

Turkmenistan ignoreer die reg op vryheid van gewete

Turkmenistan ignoreer die reg op vryheid van gewete

In Januarie 2018 is Arslan Begenjof en Kerwen Kakabajef tot een jaar tronkstraf gevonnis op die klag dat hulle militêre diens probeer vryspring. Die twee jong mans is Jehovah se Getuies, en hulle het geweier om aan te sluit by die weermag as gevolg van hulle godsdiensoortuigings. Al was die twee jong mans bereid om alternatiewe burgerlike diens te doen, het die regering van Turkmenistan nog steeds nie die basiese reg op gewetensbeswaar erken nie. Hulle bied ook nie ’n ander opsie vir militêre diens nie.

Gearresteer, skuldig bevind en tronk toe gestuur

Die owerheid het mnr. Begenjof op 2 Januarie gearresteer en hom in ’n tydelike detensie-fasiliteit gesit totdat sy verhoor begin het. Op 17 Januarie het die hof hom skuldig gevind omdat hy militêre diens probeer vryspring en hom tot een jaar tronkstraf gevonnis. Mnr. Begenjof het teen sy onregverdige vonnis geappelleer.

Mnr. Kakabajef is ook in Januarie gearresteer en is op 29 Januarie onregverdig tot een jaar tronkstraf gevonnis. Gedurende sy verhoor het die hof hom nie toegelaat om gunstige beslissings van die VN se Menseregtekomitee voor te lê wat sy saak ondersteun nie. Ongelukkig sal ’n hof dalk nooit mnr. Kakabajef se appèlsaak verhoor nie. Tronkbeamptes het sy appèlaansoek wat sy prokureurs voorberei het, teruggehou. As gevolg hiervan kon hy nie die aansoek binne tien dae van sy vonnis teken soos die wet vereis nie.

Dit is die tweede keer dat mnr. Kakabajef gestraf word omdat hy gewetensbeswaar teen militêre diens het. In Desember 2014 het die owerheid hom tot twee jaar korrektiewe arbeid gevonnis. Dit het beteken dat hy 20 persent van sy salaris aan die Staat gedurende hierdie tydperk moes betaal.

Turkmenistan ‘hou aan om die reg op gewetensbeswaar te ignoreer’

Die regering van Turkmenistan sê dat hulle die basiese vryhede van hulle mense respekteer. Maar hulle weier om die reg op gewetensbeswaar teen militêre diens te erken al is hulle meer as een keer gevra om aan internasionale standaarde te voldoen.

In 2015 en 2016 het die VN se Menseregtekomitee beslissings teen Turkmenistan gelewer as gevolg van 10 klagtes wat deur Getuie-gewetensbeswaardes ingedien is. In hierdie beslissings het die Komitee Turkmenistan aangespreek omdat hulle Getuies vervolg en in die tronk sit as gevolg van gewetensbeswaar. In April 2017 het die Komitee weer sy bekommernis uitgespreek oor die feit dat Turkmenistan “aanhou om die reg op gewetensbeswaar teen verpligte militêre diens te ignoreer en omdat hulle Jehovah se Getuies herhaaldelik vervolg en in die tronk sit omdat hulle weier om verpligte militêre diens te doen”. Hulle het Turkmenistan gevra om alternatiewe burgerlike diens as ’n opsie aan te bied, om op te hou om gewetensbeswaardes te vervolg en om mense vry te laat wat op die oomblik in die tronk is omdat hulle weier om militêre diens te doen.

Oor die afgelope paar jaar het die regering ’n paar veranderinge gemaak aan die manier hoe hulle gewetensbeswaardes teen militêre diens behandel. Sedert Desember 2014 sit die regering nie meer Getuie-gewetensbeswaardes in die tronk nie, maar die regering straf hulle eerder deur 20 persent van hulle salaris vir ’n jaar of twee af te trek (soos in die geval van mnr. Kakabajef in 2014). In party gevalle is Getuies ’n voorwaardelike vonnis opgelê. * In Februarie 2015 het hulle die laaste Getuie wat in die tronk gesit is as gevolg van gewetensbeswaar, vrygelaat. Maar ongelukkig het die regering van Turkmenistan in die onlangse sake teen mnr. Begenjof en mnr. Kakabajef weer besluit om ’n strenger straf te gee eerder as om vorentoe te beweeg en om die reg op gewetensbeswaar te erken.

Die storie gaan verder as gewetensbeswaar

Behalwe vir die feit dat mnr. Begenjof en mnr. Kakabajef onlangs in die tronk gesit is, hou die owerheid Bahram Hemdemof in aanhouding omdat hy sy reg op aanbidding beoefen het. Hy is een van Jehovah se Getuies en is gearresteer en in die tronk gesit omdat hy ’n godsdiensvergadering in sy huis in Turkmenabad gehou het. Hierdie pa van vier is vanaf 2015 in die tronk, al het die president van Turkmenistan oor die afgelope twee jaar ’n hele paar mense vrygespreek. Alhoewel die regering duisende mense wat in die tronk is, vrygespreek het, hou hulle aan om smekinge te ignoreer om mnr. Hemdemof vry te laat.

Jehovah se Getuies wil graag hê dat dinge beter moet word vir hulle mede-gelowiges in Turkmenistan. Hulle hoop dat Turkmenistan binnekort die reg op vryheid van godsdiens en gewete sal respekteer en dat hulle die onregverdighede sal regstel.

^ par. 10 ’n Voorwaardelike vonnis verwys na die een of ander vorm van opgeskorte vonnis in plaas van tronkstraf.