Spring na inhoud

16 MEI 2017
TURKMENISTAN

Mansoer Masjaripof vrygelaat uit ’n tronk in Turkmenistan

Mansoer Masjaripof vrygelaat uit ’n tronk in Turkmenistan

Op 12 Mei 2017 het die owerheid in Turkmenistan Mansoer Masjaripof uit die tronk vrygelaat. Hy is dankbaar om weer terug te wees by sy familie nadat hy amper ’n jaar lank opgesluit was.

Mnr. Masjaripof het geweier om militêre diens te doen omdat dit teen sy gewete is. In Mei 2004 het die hof in Dasjogoez hom gevonnis tot 18 maande in die Seidi-strafkamp wat bekend is vir mishandeling, siekte en haglike omstandighede. Al is hy as gevolg van ’n spesiale amnestie in Mei 2005 vroeg vrygelaat, het sy gesondheid daaronder gely. In Julie 2014 het die polisie by sy huis ingestorm, dit deursoek en sy godsdienslektuur gekonfiskeer. Terwyl mnr. Masjaripof in aanhouding was, het die polisie hom herhaaldelik geslaan en gedreig. Daarna is hy na ’n dwelmrehabilitasiesentrum gestuur, nie ter wille van sy gesondheid nie, maar om hom met dwelms in te spuit. Die inspuitings het hom verlam en hom siek gemaak. Mnr. Masjaripof het vir lewe gevrees en het dit reggekry om te ontsnap. Hy het weggekruip totdat hy op 30 Junie 2016 in hegtenis geneem is.

Jehovah se Getuies is dankbaar dat mnr. Masjaripof vrygelaat is. Maar hulle sê dat hulle bekommerd is oor die gewelddadige optrede wat die owerheid in Turkmenistan gebruik om die Getuies te keer om hulle godsdiens vryelik te beoefen. Die Getuies gaan ook voort om aan Bahram Hemdemof se saak te werk sodat hy vrygelaat kan word. Hy is nou al amper drie jaar lank in die Seidi-strafkamp omdat hy ’n vreedsame godsdiensvergadering by sy huis gehou het.