Spring na inhoud

17 MAART 2016
TURKMENISTAN

Turkmenistan verplig om menseregteskendings reg te stel

Turkmenistan verplig om menseregteskendings reg te stel

In vier onlangse beslissings het die VN se Menseregtekomitee tot die gevolgtrekking gekom dat die regering van Turkmenistan mans verkeerdelik gestraf het weens gewetensbeswaar teen diensplig. * Dit het ook vasgestel dat die haglike omstandighede waarin hulle opgesluit is, ander regte geskend het wat deur die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte (ICCPR) gewaarborg is. Die Komitee se beslissings verplig Turkmenistan om die skendings van die internasionale wetgewing oor menseregte reg te stel.

Een besluit lei tot twee skuldigbevindings

In Maart 2015 het die Komitee die saak hersien van Zafar Abdoellayef, ’n Turkmeen wat een van Jehovah se Getuies is. Die owerheid het hom twee keer op grond van gewetensbeswaar skuldig bevind. Toe Mr. Abdoellayef in April 2009 verhoor is, het hy voor die Stadshof van Dasjogoez getuig dat hy, nadat hy die Bybel studeer het, besluit het om nie wapens op te neem nie, nie te leer om oorlog te voer of enige ander militêre bedrywighede te ondersteun nie. Hy het ook getuig dat hy bereid is om alternatiewe burgerlike diens te doen. Maar die hof het hom gevonnis tot ’n 24 maande lange voorwaardelike vonnis * vir “ontwyking van diensplig”.

Elf maande nadat hy sy vonnis uitgedien het, is Mr. Abdoellayef voor dieselfde hof gebring in reaksie op nog ’n oproep op militêre diens. Sy besluit het dieselfde gebly. Die hof het hom tot 24 maande in die tronk gevonnis.

Die Komitee het tot die gevolgtrekking gekom dat die feit dat Mr. Abdoellayef twee keer gestraf is omdat hy militêre diensplig geweier het, die waarborg geskend het dat “niemand aanspreeklik gehou moet word om weer verhoor te word of gestraf te word vir ’n oortreding waarvoor hy reeds amptelik skuldig bevind is nie”. (Sien ICCPR Artikel 14, paragraaf 7.) Nog belangriker, die Komitee het tot die gevolgtrekking gekom het dat albei skuldigbevindings ’n oortreding was van “die reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens”.—Sien ICCPR Artikel 18, paragraaf 1.

“Die reg op gewetensbeswaar teen militêre diens gaan gepaard met die reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens. Dit gee elke individu die reg op ’n vrystelling van militêre diensplig as sulke diens nie in ooreenstemming is met daardie individu se godsdiens of oortuigings nie.”—VN se Menseregtekomitee

Lewe in die tronk

Toe Mr. Abdoellayef by die Seydi LB-E/12-tronk aankom, het die gevangenisadministrasie hom onmiddellik in afsondering geplaas vir tien dae. Terwyl hy daar was, het die tronkbewaarders hom erg geslaan en aan ander vorme van slegte behandeling onderwerp.

Tussen 2010 en 2011 is drie ander Getuiemans, Ahmet Hoedaybergenof, Mahmoed Hoedaybergenof en Soennet Japparow ook weens gewetensbeswaar teen militêre diens opgesluit. Hulle het gesê dat hulle soortgelyke wrede behandeling ondervind het toe hulle by die Seydi-tronk aangekom het en hulle is herhaaldelik geslaan gedurende hulle aanhouding.

Zafar Abdoellayef

Die vier Getuies het soortgelyke verslae gegee van omstandighede in die tronk. Ongeveer 40 gevangenes is in selle gedruk wat nie basiese higiëne gehad het nie en daar was geen plek om te sit nie, behalwe op die betonvloer. Saans het hulle net vuil komberse gehad wat nie voldoende vir hulle was nie.

In Oktober 2015 het die Komitee oor die sake van mnre. Hoedaybergenof, Hoedaybergenof en Japparow beslis. Net soos in die geval van Mr. Abdoellayef het die Komitee vasgestel dat die behandeling waaraan die owerheid die mans onderwerp het, die waarborg geskend het wat sê dat “niemand aan marteling of aan wrede, onmenslike of vernederende behandeling of straf onderwerp sal word nie”. (Sien ICCPR Artikel 7.) Die Komitee het ook tot die slotsom gekom dat die ellendige lewensomstandighede die reg van aangehoudenes geskend het wat sê dat hulle “met menslikheid en met respek vir die inherente waardigheid van die mens” behandel moet word.—Sien ICCPR Artikel 10.

Verpligtinge om menseregteskendings reg te stel

Die VN se Menseregtekomitee het erken dat Turkmenistan se wet diensplig vir manlike burgers voorskryf. Maar die Komitee sê dat die ICCPR ’n vrystelling van militêre diensplig waarborg indien iemand weens opregte oortuigings weier. ’n Skuldigbevinding en vonnis wat mense op grond van hierdie rede vir weiering straf, stem nie ooreen met die basiese reg op “vryheid van denke, gewete en godsdiens” nie.

Die Komitee se beslissings verplig die regering van Turkmenistan om “wetgewing [aan te neem] wat die reg op gewetensbeswaar waarborg”, om bewerings van “wrede, onmenslike of vernederende behandeling” deeglik te ondersoek en enigiemand wat verantwoordelik is vir mishandeling, geregtelik te vervolg. Die Komitee vereis ook dat die regering die mans wie se regte geskend is, ten volle, insluitende finansieel, vergoed en om hulle kriminele rekord weens gewetensbeswaar, uit te wis.

Nog vordering is nodig

Die regering van Turkmenistan het vordering gemaak in hulle handelinge met gewetensbeswaardes. In Februarie 2015 het die regering die laaste Getuie vrygestel wat opgesluit is omdat hy hierdie reg uitgeoefen het.

Maar Turkmenistan hou nog steeds ander gevangenes weens gewetensbeswaar aan. Bahram Hemdemof, ’n gesinsman en een van Jehovah se Getuies, is nog steeds in die tronk. Die owerhede het hom in hegtenis geneem toe die polisie ’n klopjag uitgevoer het op die godsdiensvergadering wat hy in sy huis op 14 Maart 2015 gehou het. ’n Hof het hom later tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis vir sy godsdiensbedrywighede. Mr. Hemdemof verduur nou mishandeling en bejammerenswaardige lewensomstandighede in die welbekende Seydi-strafkamp.

Jehovah se Getuies en al die burgers in Turkmenistan sien uit daarna om te sien dat die regering sy internasionale verpligtinge ten volle nakom om menseregte te respekteer, insluitende die fundamentele reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens.

^ par. 2 Sien VN se Menseregtekomitee Kommunikasie: Nr. 2218/2012, Zafar Abdullayev v. Turkmenistan, 25 Maart 2015 (CCPR/C/113/D/2218/2012); Nr. 2221/2012, Mahmud Hudaybergenov v. Turkmenistan, 29 Oktober 2015 (CCPR/C/115/D/2221/2012); Nr. 2222/2012, Ahmet Hudaybergenov v. Turkmenistan, 29 Oktober 2015 (CCPR/C/115/D/2222/2012); Nr. 2223/2012, Sunnet Japparow v. Turkmenistan, 29 Oktober 2015 (CCPR/C/115/D/2223/2012).

^ par. 4 ’n Voorwaardelike vonnis skryf ’n proeftydperk voor om ’n vonnis wat ’n persoon van vryheid ontneem, voorwaardelik uit te stel of te vervang. In die geval van mnr. Abdoellayef se eerste skuldigbevinding, het hy ingestem om gereeld deur die polisie gemonitor te word en het hy nie ’n tronkvonnis uitgedien nie.