Spring na inhoud

4 JULIE 2017
TURKMENISTAN

Sal Turkmenistan die beslissing deur die VN se Menseregtekomitee uitvoer?

Sal Turkmenistan die beslissing deur die VN se Menseregtekomitee uitvoer?

In tien van die onlangse beslissings deur die VN se Menseregtekomitee (Komitee) is die regering in Turkmenistan gevra om sy verpligtinge na te kom en die menseregte van sy burgers te beskerm. * In die beslissings van 2015 en 2016 is daar gesê dat die regering moet ophou om gewetensbeswaardes te straf. Turkmenistan moet ook voldoen aan die VN se Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte, waarvan hulle deel is.

Getuies soek regverdigheid

Die Komitee se beslissings is gebaseer op die klagtes wat deur tien Getuie-mans in September 2012 ingedien is. Hulle is gestraf vir hulle gewetensbeswaar teen militêre diens. Nege van die tien mans is in die tronk opgesluit. Hulle moes haglike omstandighede verduur en het gesê dat hulle geslaan, verneder en baie sleg behandel is. Die tronkselle was oorvol en verskriklik vuil, en hulle was blootgestel aan uiterste temperature en aansteeklike siektes.

Elke beslissing deur die Komitee het daarop gewys dat Turkmenistan die gewetensbeswaardes se “vryheid van gedagte, gewete en godsdiens” geskend het. Die Komitee het in verband met die nege mans wat in die tronk was, gesê dat Turkmenistan hulle nie “met menslikheid en respek behandel het” nie. Hulle is ook “gemartel of wreed, vernederend of onmenslik behandel of gestraf”.

Die Komitee het gesê dat die oortredings net reggestel kan word as die regering van Turkmenistan die Getuies se kriminele rekord verwyder en hulle heeltemal vir hulle skade vergoed. Die regering moet ook sy wetgewing hersien om seker te maak dat “die regte van gewetensbeswaardes gewaarborg” en toegepas word. Die Komitee het die regering ook beveel om ’n onpartydige en deeglike ondersoek te maak van die beweerde mishandeling, en om die skuldige persone te straf.

In 2013 het nog vyf Getuie-mans klagtes ingedien by die Komitee omdat hulle as gewetensbeswaardes gestraf is. Hulle regsverteenwoordigers verwag dat die beslissings in hierdie sake dieselfde uitslag sal hê as die vorige tien.

Slegte behandeling van Nawroez Nasirlajef

Nawroez Nasirlajef

Een van die Komitee se beslissings, wat op 15 Julie 2016 vrygestel is, het te doen gehad met Nawroez Nasirlajef. Toe hy die eerste keer in April 2009 op 18-jarige ouderdom vir militêre diens opgeroep is, het hy aan die owerheid verduidelik dat sy gewete hom nie toelaat om militêre diens te doen nie. Maar hy het gesê dat hy bereid is om alternatiewe burgerlike diens te doen. Hy is later daaraan skuldig bevind dat hy diensplig ontduik het en is tot twee jaar in die LB-E/12-tronk in Seidi gevonnis. Terwyl hy daar was, is hy van tyd tot tyd in ’n strafsel toegesluit en wreed geslaan deur gemaskerde wagte.

Mnr. Nasirlajef is in Januarie 2012, ’n maand nadat hy vrygelaat is, weer vir militêre diens opgeroep. Hy het hierdie keer ook gesê dat hy bereid is om alternatiewe burgerlike diens te doen. Maar hy is weer skuldig bevind op dieselfde aanklag en gevonnis tot twee jaar in “’n tronk met streng reëls” en “haglike” toestande. Hy is soos voorheen wreed geslaan deur tronkbewaarders en is gedwing om vernederende werk te doen.

Mnr. Nasirlajef se familielede het ook swaar gekry. Kort nadat die Komitee sy klag na die regering van Turkmenistan vir terugvoering gestuur het, het die polisie sy huis in Dasjogoez deursoek en sy familielede en hulle gaste mishandel. Die rede hiervoor was blykbaar om hom te straf omdat hy gekla het.

Hoewel mnr. Nasirlajef in Mei 2014 uit die tronk vrygelaat is, dra hy nog steeds die gevolge van wat met hom in die tronk gebeur het. Die Komitee het gesê dat hy ernstig mishandel is en dat hy twee keer skuldig bevind en gestraf is omdat hy “by sy oortuigings gebly het as gevolg van sy gewete”. Die Komitee het afgesluit: “[Mnr. Nasirlajef] het geweier om militêre diensplig te doen as gevolg van sy godsdiensoortuigings. . . , [en sy] verdere skuldigbevinding en vonnis is ’n skending van sy vryheid van gedagte, gewete en godsdiens.”

Sal Turkmenistan Jehovah se Getuies beter behandel?

In 2012, in ’n vroeëre verslag oor menseregte in Turkmenistan, het die Komitee vir die regering gesê om “alle vervolging van persone wat weier om militêre diens te doen op grond van hulle gewete, stop te sit, en persone wat ’n tronkvonnis uitdien vry te laat.” Die regering in Turkmenistan het gedeeltelik gereageer deur die laaste Getuie wat as gevolg van gewetensbeswaar in die tronk was, in Februarie 2015 vry te laat. Van toe af is geen Getuie met tronkstraf gevonnis vir gewetensbeswaar teen militêre diens nie.

Maar die regering in Turkmenistan hou aan om sy internasionale verpligtinge in verband met die beskerming van menseregte te skend deur gewetensbeswaardes te vervolg en te straf.

  • Sedert die einde van 2014 het die regering Jehovah se Getuies wat gewetensbeswaardes is, gevonnis om korrektiewe arbeid te doen. Hierdie straf vereis dat gewetensbeswaardes 20 persent van hulle salaris vir ’n tydperk van een tot twee jaar aan die staat oorbetaal. Op die oomblik doen twee Getuies van Jehovah korrektiewe arbeid.

  • In ander gevalle het beamptes baie druk op gewetensbeswaardes geplaas om hulle te probeer dwing om hulle opregte oortuigings prys te gee.

Artoer Jangibajef

Op 16 Junie 2016 het die plaaslike balju en twee verteenwoordigers van die kantoor van die militêre kommissaris byvoorbeeld na ’n Getuie met die naam Artoer Jangibajef se huis gegaan. Hy het vroeër ’n petisie ingehandig waarin hy versoek het om alternatiewe burgerlike diens te doen. Die beamptes het hom na die aanklaer se kantoor gevat. Daar het hulle hom onder soveel sielkundige druk geplaas dat hy verplig gevoel het om ’n brief te skryf waarin hy sy vroeëre petisie terugtrek. Mnr. Jangibajef het later ’n klag ingedien oor die feit dat hulle hom gedwing het. Ná drie weke in aanhouding was hy vrygelaat met ’n opgeskorte vonnis van twee jaar. *

Ander skendings van menseregte wat nie reggestel is nie

Behalwe dat Turkmenistan gewetensbeswaardes mishandel, beperk hulle ook godsdiensbedrywighede en straf hulle mense wat daaraan deelneem. In Januarie 2017 het die VN se Komitee teen Marteling ’n verslag uitgereik, wat die regering van Turkmenistan versoek om “seker te maak dat onpartydige ondersoeke so gou moontlik ingestel word in die beweerde mishandeling in aanhouding van Bahram Hemdemof, ’n Getuie van Jehovah, in Mei 2015. En in die inhegtenisneming, mishandeling en onwillekeurige aanhouding in ’n dwelmrehabilitasiesentrum van Mansoer Masjaripof, ’n Getuie van Jehovah, in Julie 2014”. Mnr. Masjaripof is sedertdien vrygelaat nadat hy ’n jaar lank in die tronk was. Mnr. Hemdemof, wat skuldig bevind is aan beweerde onwettige godsdiensbedrywighede, en mnr. Masjaripof, wat in die tronk gegooi is as gevolg van vervalste aanklagte vir sy godsdiensbedrywighede, is albei onskuldig.

Jehovah se Getuies in Turkmenistan hoop dat die regering binnekort hierdie skendings sal regstel en vryheid van godsdiens en gewete sal handhaaf. Dit sal ook wys dat Turkmenistan respek het vir die mans wat ’n standpunt ingeneem het as gevolg van hulle gewete en dat die regering sy rekord ten opsigte van menseregte wil verbeter.

^ par. 2 Internasionale wetgewing erken gewetensbeswaar teen militêre diensplig as ’n basiese mensereg, en die meeste lande maak voorsiening daarvoor in hulle plaaslike wette. Maar Turkmenistan, Azerbeidjan, Eritrea, Singapoer, Suid-Korea en Turkye weier om hierdie reg te erken en hou ook aan om Getuies van Jehovah wat weier om militêre diensplig te doen, strafregtelik te vervolg.

^ par. 18 ’n Voorwaardelike vonnis behels dat ’n persoon voorwaardelik vrygelaat kan word deur sy vonnis op te skort of te vervang met ’n vonnis wat ’n persoon sy vryheid ontneem. Mnr. Jangibajef word deur die polisie gemonitor en het nie tronkstraf uitgedien nie.