Spring na inhoud

9 APRIL 2015
VANUATU

Jehovah se Getuies organiseer noodleniging kort ná die sikloon Pam

Jehovah se Getuies organiseer noodleniging kort ná die sikloon Pam

NOUMEA, Nieu-Kaledonië—Vanaf die aand van 13 Maart 2015 het die tropiese sikloon Pam met kategorie-5 winde deur die eilandgroep Vanuatu in die Stille Oseaan gewoed. Aanvanklike verslae van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Nieu-Kaledonië toon dat geen Getuies in Vanuatu tydens die katastrofiese storm gesterf het of beseer is nie. Die omvang van die skade word nog vasgestel, maar daar is bevestig dat 31 Getuies se huise vernietig is en nog 58 ernstig beskadig is op die eiland Efate. Op die eiland Tanna is amper al die huise van die Getuies ernstig beskadig of vernietig. Sikloonwinde het ook drie Koninkryksale vernietig, en nog een is beskadig deur ’n boom wat omgeval het.

’n Noodlenigingskomitee in Vanuatu se hoofstad, Port Vila, het kos, drinkbare water en basiese skuiling vir sowat 100 Getuiegesinne voorsien. Daarbenewens is een ton noodlenigingsvoorraad aan die Getuies in Tanna gestuur om in hulle onmiddellike behoeftes te voorsien. Die takkantoor in Australië werk saam met die takkantoor in Nieu-Kaledonië om die noodlenigingspogings te ondersteun, wat die bou van skuilplekke en herstel van beskadigde huise sal insluit, asook die voorsiening van beddegoed, klere en ander noodsaaklikhede.

Jean-Pierre Francine, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Nieu-Kaledonië, sê: “Ons is dankbaar vir die hulp uit die buiteland asook die regeringsagentskappe wat ons medeaanbidders gehelp het. Noudat daar weer vlugte na Vanuatu is, besoek ’n verteenwoordiger van die takkantoor in Nieu-Kaledonië en reisende bedienaars die eiland om nie net praktiese hulp te bied nie, maar ook vertroosting en geestelike bystand.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Nieu-Kaledonië: Jean-Pierre Francine, tel. +687 43 75 00

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000