Spring na inhoud

30 AUGUSTUS 2017
VENEZUELA

Jehovah se Getuies in Venezuela hou aan met hulle Bybelonderrigtingswerk ten spyte van ’n ekonomiese krisis

Jehovah se Getuies in Venezuela hou aan met hulle Bybelonderrigtingswerk ten spyte van ’n ekonomiese krisis

NEW YORK — Volgens berigte deur die internasionale media gaan toestande in Venezuela baie agteruit as gevolg van ekonomiese probleme. Die takkomitee in Venezuela berig dat ons broers en susters ook deur hierdie krisis geraak word. Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies is baie bekommerd oor hierdie nuus.

Gewapende misdadigers het gedurende weeklikse vergaderinge by party Koninkryksale ingegaan om elektroniese toestelle en ander waardevolle items te steel. In party gevalle word vergaderinge in broers se huise gehou omdat hulle as gevolg van gewelddadige toestande nie by die Koninkryksaal kan uitkom nie. ’n Hele paar van ons broers en susters het ook hulle werk verloor omdat die plek waar hulle gewerk het, toegemaak het. Party wat besighede besit, het die teiken geword van misdadigers en bendes, en as gevolg hiervan is hulle gedwing om hulle besighede te verkoop en landuit te vlug vir hulle veiligheid. Dit is ontstellend om te hoor dat ten minste 680 broers en susters gedurende die afgelope paar jaar ontvoer is. Meer as 13 146 was slagoffers van gewapende roof en 144 was slagoffers van verkragting of poging tot verkragting. Dit is baie tragies dat daar volgens berigte 47 van ons broers en susters tot en met 10 Augustus 2017 vermoor is. Party is ook dood omdat hulle nie die nodige mediese behandeling kon kry nie.

Die Bestuursliggaam bly op hoogte van die situasie en gebruik vrywillige bydraes wat opsygesit is om ons broers en susters van basiese noodlenigings-voorraad te voorsien. Die Bestuursliggaam kommunikeer met ander takkantore regoor die wêreld om vas te stel wat die beste manier is om ons broers en susters in Venezuela te help omdat pogings om hulle by te staan, gevaarlik kan wees.

Die takkomitee in Venezuela het ’n noodlenigings-komitee by die takkantoor opgestel wat met behulp van 24 subkomitees regoor die land omsien na die behoeftes van ons broers. Daar is meer as 149 000 verkondigers in Venezuela. Hoewel hulle baie swaarkry as gevolg van ernstige probleme gedurende hierdie “laaste dae”, is hulle hard besig om hulle bure van die Bybel se vertroostende boodskap te vertel (2 Timoteus 3:1-5; 2 Timoteus 4:2). Luis R. Navas, ’n woordvoerder van die takkantoor in Venezuela, verduidelik: “Dit het geestelik nog nooit so goed met ons gegaan soos nou nie. Ons gemeentelike vergaderinge word deur al hoe meer mense bygewoon. Meer verkondigers het begin pionier, maar terselfdertyd is hulle ook versigtiger wanneer hulle velddiens doen. Omdat mense weet dat ons heeltemal neutraal is en niks te doen het met die kriminele bedrywighede wat oral in die land voorkom nie, luister hulle graag na die Bybel se boodskap van hoop en vertroosting.”

Jehovah se Getuies in Venezuela sal aanhou om vir mekaar te sorg en hulle bure te vertroos. Hulle broers en susters regoor die wêreld sal aanhou om hulle te ondersteun en vir hulle te bid. — Romeine 12:12, 13; 2 Korintiërs 1:3, 4.

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Venezuela: Luis R. Navas, +58-244-400-5000