Spring na inhoud

Ons broers en susters in Venezuela bly geestelik sterk deur vergaderinge en byeenkomste by te woon en velddiens te doen.

5 NOVEMBER 2018
VENEZUELA

Jongste nuus oor Venezuela: Sterk geloof ondanks verslegtende toestande

Jongste nuus oor Venezuela: Sterk geloof ondanks verslegtende toestande

Die ekonomiese krisis in Venezuela is nou al ’n hele ruk aan die gang en dit word al hoe erger. Hierdie krisis hou aan om ons broers en susters te raak. Elke week kry die takkantoor in Venezuela verslae oor verkondigers wat slagoffers van misdaad is. Daar is ook by ’n hele paar Koninkryksale in die land ingebreek. Alles in die land het verskriklik duur geword, en daarom het die broers baie min kos, medisyne en ander basiese dinge. Sedert 2013 het meer as 20 000 verkondigers na ander lande gevlug, insluitende Argentinië, Brasilië, Chili, Colombia, Ecuador, Italië, Peru, Portugal, Spanje en die Verenigde State. a Ten spyte van hierdie moeilike omstandighede is die sowat 140 000 Getuies van Jehovah wat nog in Venezuela bly, ywerig besig om Jehovah te dien.

Die takkantoor in Venezuela hou aan om die noodlenigingswerk in die land te organiseer. Daar is nou 60 noodlenigingskomitees, wat hoofsaaklik die werk het om kos aan die broers en susters te versprei. Tot dusver het die takkantoor in Venezuela saam met die hulp van die takkantoor in Brasilië honderde tonne kos aan meer as 64 000 verkondigers in 1 497 gemeentes versprei.

Die takkantoor in Venezuela hou ook aan om in die geestelike behoeftes van ons broers en susters te voorsien. Hierdie somer was daar 122 “Wees moedig”!-streekbyeenkomste regdeur die land gehou, waarvan die laaste byeenkoms op 2 September 2018 klaargemaak het. Die byeenkomste het die broers en susters net op die regte tyd geestelik versterk. Dit was vir baie van hierdie broers en susters moeilik om die geld bymekaar te skraap om die byeenkoms by te woon.

Getuies in Venezuela is besig om baie mense wat in daardie land deur moeilike tye gaan, te vertroos met die Bybel se boodskap. Op die oomblik hou die verkondigers amper 200 000 Bybelstudies elke maand. Meer belangstellendes woon nou die gemeentelike vergaderinge by, en 7 259 mense is gedoop.

Hierdie positiewe dinge wat in Jehovah se organisasie gebeur, bewys dat God se gees ons broers en susters in Venezuela versterk. Ons bid dat hulle sal aanhou om op Jehovah te vertrou totdat sy Koninkryk ’n einde maak aan al die probleme wat ons vandag om ons sien. — Spreuke 3:5, 6.

Vir meer inligting oor die situasie in Venezuela, kyk die video Venezuela — Liefde en geloof in moeilike tye.

a Wanneer die situasie in ’n land baie gevaarlik of moeilik word, moet elke verkondiger vir homself besluit of hy in sy land gaan bly en of hy gaan vlug. Die organisasie sê nie of iemand moet vlug of moet bly nie. — Galasiërs 6:5.