Spring na inhoud

Die Koninklike Geregshowe-gebou, waar die Hooggeregshof en die appèlhof van Engeland en Wallis is

12 MEI 2020
VERENIGDE KONINKRYK

Hof in Engeland verdedig ons reg om te kies wie aan ons godsdiensorganisasie kan behoort

Hof in Engeland verdedig ons reg om te kies wie aan ons godsdiensorganisasie kan behoort

Op 17 Maart 2020 het die appèlhof van Engeland en Wallis beslis dat daar geen rede is om die uitspraak van die Hooggeregshof te verander nie. Die appèlhof het bevestig dat Jehovah se Getuies die reg het om die Bybel se riglyne te volg wanneer dit kom by uitsetting.

Die Hooggeregshof het beslis dat ’n gemeente die reg het om aan te kondig dat ’n persoon nie meer een van Jehovah se Getuies is nie en dat hierdie aankondiging nie bedoel is om daardie persoon se reputasie te skend nie. Die regter, Richard Spearman, het in sy uitspraak gesê: “Dit is normaal vir ’n godsdiensgroep wat probeer om Bybelbeginsels te gehoorsaam om die mag te hê om ’n sondaar uit te sit. Dit is ’n redelike ding om te doen, en in baie gevalle is dit noodsaaklik. Iemand wat nie Bybelbeginsels kan of wil gehoorsaam nie, kwalifiseer nie meer om aan so ’n godsdiensgroep te behoort nie. En as daardie persoon nie uitgesit word nie, kan hy dalk ’n slegte invloed op ander in die godsdiens hê.”

Die persoon wat die saak gemaak het, het vir toestemming gevra om die hof se uitspraak te appelleer. Die appèlhof het toestemming geweier en het gesê dat dit “absoluut geen grondslag het nie”. Hulle het ook gesê dat die hof se uitspraak “heeltemal reg” was en dat die “mag van uitsetting noodsaaklik is binne ’n godsdiensorganisasie”.

Shane Brady, ’n regsgeleerde vir Jehovah se Getuies, het oor die uitspraak gesê: “Hierdie uitspraak stem ooreen met die uitsprake van baie ander howe, soos die Engelse howe, die Europese Hof van Menseregte en appèlhowe in Kanada, die Europese Vasteland en die Verenigde State. Al hierdie uitsprake bevestig Jehovah se Getuies se reg om te besluit wie aan hulle godsdiensorganisasie kan behoort.”

Ons is bly dat die Hof ons reg verdedig het om gehoorsaam te wees aan die Bybel en om ons gemeentes te beskerm teen slegte invloede. – 1 Korintiërs 5:11; 2 Johannes 9-11.