Spring na inhoud

5 SEPTEMBER 2017
VERENIGDE KONINKRYK

Die Getuies se nuwe takkantoor in Brittanje ontvang die hoogste BREEAM-gradering vir volhoubare ontwerp

Die Getuies se nuwe takkantoor in Brittanje ontvang die hoogste BREEAM-gradering vir volhoubare ontwerp

LONDEN — Jehovah se Getuies is besig om ’n nuwe administratiewe fasiliteit in Brittanje te bou. Hulle ontwerp en boumetodes is gesertifiseer as Uitstekend. Volgens BREEAM (Building Research Establishment Environmental Assessment Method), die vernaamste standaard waarvolgens die volhoubaarheid van geboue bepaal word, is dit die hoogste toekenning wat ’n gebou kan ontvang. Die Getuies se fasiliteit is omtrent 70 kilometer oos van Londen, in Chelmsford, Essex, en is een van net twee projekte wat hierdie spesifieke toekenning van BREEAM ontvang het.

Op 25 Mei 2017 het die Getuies se nuwe fasiliteit in Chelmsford een van net twee projekte geword wat ’n spesiale BREEAM-toekenning ontvang het. Hulle projek is gesertifiseer as Uitstekend.

BREEAM is deur die bekende sentrum vir boukunde BRE (Building Research Establishment) ontwikkel. Dit is ’n standaard wat gebruik word om die volhoubaarheid te meet van bouprojekte, infrastruktuur en geboue in verskillende kategorieë: energie, gesondheid, nuwe uitvindings, gebruik van grond, materiale, bestuur, besoedeling, vervoer, afval en water. Projekte word dan gegradeer as Aanvaarbaar, Goed, Baie Goed, Uitsonderlik of Uitstekend. Die stadsraad van Chelmsford het vereis dat die Getuies se projek doelwitte vir volhoubare ontwerp moes bereik voordat die planne vir die nuwe fasiliteit goedgekeur kon word. Een van hierdie doelwitte was ’n minimum BREEAM-gradering van Baie Goed. Neil Jordan, die senior beplanningsbeampte vir die stadsraad van Chelmsford se direktoraat vir volhoubare gemeenskappe, het die volgende oor die Getuies se projek gesê: “Dit maak ons bly om te sien dat Jehovah se Getuies hulle volle samewerking gegee het om aan die vereistes vir hierdie projek te voldoen. Hulle het selfs meer gedoen as wat die stadsraad van hulle verwag het.” Hy sê verder dat die projek “nou iets is waarop die stad trots kan wees, en dat dit ’n uitstekende voorbeeld is van ’n projek wat aan die hoogste omgewingstandaarde voldoen”.

Behalwe dat die projek as Uitstekend gesertifiseer is, het dit ook erkenning ontvang vir sy omgewingsvriendelike ontwerp. Omdat die Getuies die werkers op die bouterrein laat bly het en hulle aangery het met minibusse en ander maniere van volhoubare vervoer, kon hulle die hoeveelheid koolstofgas wat hulle vrystel met 2 250 metrieke ton verminder. Hiervoor het die Getuies ’n spesiale BREEAM-toekenning vir vindingrykheid ontvang, die eerste in sy soort. Mnr. Jordan het verduidelik dat die projek “gehelp het om nuwe maniere te kry om minder koolstofgas vry te stel. Terselfdertyd was dit ook die eerste projek wat spesifieke erkenning van BREEAM op sekere gebiede gekry het”.

Mnr. Pallab Chatterjee, ’n BREEAM-assessor.

Mnr. Pallab Chatterjee, ’n BREEAM-assessor, vertel hoe dit was om saam met die Getuies te werk en ook te sien hoe die Getuies met die gemeenskap saamwerk: “Ek het baie gehou van hoe positief en vriendelik almal op die bouterrein was, ’n mens sien dit amper nooit nie. Die Getuies het probeer om alle moontlike BREEAM-items vir volhoubaarheid by hulle ontwerp in te sluit. Hulle wou hulle ontwerp so energiebesparend en omgewingsvriendelik as moontlik hou eerder as om net erkenning van BREEAM te kry. Ek was beïndruk met die goeie kommunikasie tussen die Getuies, die plaaslike gemeenskappe en die mense wat in die toekoms daar gaan bly. Ek het dit baie geniet om op hierdie projek te werk.”

Andrew Schofield, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Brittanje, sê: “Vir die afgelope 60 jaar het ons administratiewe bedrywighede vir Brittanje in Londen plaasgevind. Maar omdat die aanvraag na Bybellektuur en -materiaal toegeneem het, was dit nodig dat ons groter fasiliteite kry. Ons het in April 2015 die terrein van 34 hektaar begin voorberei, en ons beplan om die bouwerk teen die einde van 2019 te voltooi.

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Verenigde Koninkryk: Andrew Schofield, +44-20-8906-2211

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000