Spring na inhoud

Die ‘Wees geduldig’!-streekbyeenkoms vir 2023 in Newburgh, New York, VSA

MEI 2023
VERENIGDE STATE

Die ‘Wees geduldig’!-streekbyeenkoms vir 2023 begin

Die ‘Wees geduldig’!-streekbyeenkoms vir 2023 begin

In Maart 2020 was streekbyeenkomste nie meer in persoon gehou nie as gevolg van die COVID-19-pandemie. Hierdie jaar sal meer as 6 000 ‘Wees geduldig’!-streekbyeenkomste in meer as 500 tale regoor die wêreld gehou word. Van 12 tot 14 Mei 2023 is die eerste streekbyeenkoms in persoon gehou.

Suster Khrystine Torres was een van die meer as 1 800 persone wat die streekbyeenkoms by die Newburgh-Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Newburgh, New York, VSA, bygewoon het. Sy het gesê: “Toe die voorsitter sê: ‘Welkom,’ het die hele saal begin hande klap. Almal was so bly om uiteindelik weer saam te kon wees.” Broer Duane Smith, wat ook by die streekbyeenkoms was, het gesê: “Die energie was ongelooflik. ’n Mens kon die liefde tussen die broers en susters voel.”

Suster Jessica Dolcemascolo, wat gedurende die pandemie gedoop is, het nog nooit ’n streekbyeenkoms in persoon bygewoon nie. Sy beskryf haar ondervinding op die volgende manier: “Die vreugde, liefde en geluk wat ek daar gevoel het, is dieselfde gevoel wat ’n mens kry wanneer jy jou beste vriend ná ’n baie lang tyd weer sien.” Die 18-jarige suster Noemi Tinajero, wat vroeër hierdie jaar gedoop is, het gesê: “Jy sien gelukkige families, gelukkige vriende. . . . Dit is soos ’n voorsmakie van die nuwe wêreld.”

Susters kom die Vrydagoggend by die streekbyeenkoms in Newburgh aan

Baie het gesê dat hulle die tema van die program waardeer het. Broer Sam Huh het gesê: “Dit is vir baie van ons moeilik om geduldig te wees. So dit was ’n tydige herinnering dat ons Jehovah se wonderlike voorbeeld van geduld moet navolg.” Suster Frenchie Smith het gesê: “Hierdie streekbyeenkoms het my geleer hoe geduld elke aspek van my lewe raak. Ek kon by die hele program baat vind.”

Dit was baie aanmoedigend vir almal wat die voorreg gehad het om die eerste streekbyeenkoms in Newburgh, New York, by te woon! Ons, saam met miljoene ander wêreldwyd, sien daarna uit om in die komende paar maande baat te vind by die geestelike feesmaal wat vir ons voorberei is. – Psalm 122:1.