Spring na inhoud

Melody Iwuchukwu, ses jaar oud, hou ’n Bybelstudie met drie van haar klasmaats deur middel van Zoom

7 DESEMBER 2020
VERENIGDE STATE

Jongmense spandeer meer tyd in die predikingswerk ondanks pandemie

Jongmense spandeer meer tyd in die predikingswerk ondanks pandemie

Mike Iwuchukwu het sy dogter, Melody, by die trappe hoor afhardloop. Sy het ’n breek geneem vir middagete van haar aanlyn skool. Hy het besluit om te gaan kyk hoekom sy sesjarige dogter so haastig was. Hy het gedink dat sy besig is om ’n toebroodjie te eet of met haar speelgoed te speel, maar wat hy gesien het, het hom eerder verbaas.

Mike sê: “Sy het by haar rekenaar gesit met ’n kopie van Lesse wat jy kan leer uit die Bybel terwyl drie van haar klasmaats na haar luister. Melody het vir my gesê: ‘Pappa, ek hou ’n Bybelstudie!’”

Melody is al van September 2020 vasbeslote om ’n Bybelstudie te begin toe haar skool in Texas, Verenigde State, met aanlyn klasse begin het as gevolg van die koronavirus-pandemie. So sy het vir Jehovah gebid en gesoek na geleenthede om ’n Bybelstudie te begin.

Mike en sy vrou, Octavia, was baie trots op hulle dogter. Mike vertel verder: “Melody praat die heeltyd met haar klasmaats oor Jehovah. Maar om te sien hoe sy ’n Bybelstudie op haar eie hou, het ons baie diep geraak.”

Melody hou aan om met haar klasmaats studie te hou. Sy verduidelik: “Sover het ek vir hulle oor die Paradys en oor Jesus geleer. Ek wil hê hulle moet Jehovah se Getuies word!”

Negejarige Samuel Molnar van Illinois, Verenigde State, het ook vir ander van sy geloof vertel.

Nadat Samuel gehoor het van ’n broer wat vir sy bure getuig het, het hy besluit om dit ook te doen. Toe hy hulle bure se kleinseun buite in die tuin sien speel, het hy vir die seuntjie gevra of hy wil weet wat die Paradys is. Die seuntjie het ja gesê en Samuel het toe sy kopie van My boek met Bybelverhale gaan haal.

Samuel Molnar, nege jaar oud, met sy kopie van My boek met Bybelverhale

Samuel vertel: “Ek het vir hom gesê dat hy in die toekoms met diere kan speel sonder om seer te kry. Toe lees ek vir hom die verhaal van Daniël in die leeukuil.”

Samuel het nie daar opgehou nie. Hy het vir die seuntjie ’n brief geskryf waarin hy vir hom vertel het van die aktiwiteite en video’s wat op jw.org beskikbaar is. Die twee seuntjies het gesê dat hulle nog ’n Bybelverhaal sal lees wanneer hulle mekaar weer sien.

Samuel is opgewonde oor sy ondervinding en hy werk hard om sy volgende doelwit te bereik. Hy het gesê: “Ek wil al die pamflette in die Gereedskapskissie vir Onderrigting leer ken sodat ek dit kan gebruik om ander te leer.”

Drie jong susters in Texas het onlangs hulle doelwit bereik om hulppionierdiens gedurende hulle somervakansie te doen.

In Augustus het Joselyn Horta, 13; Melanie Alvarez, 12; en Chloe Rodriguez, 10, mekaar deur middel van videoverbinding gekontak om saam briewe te skryf. Hulle het mekaar tot vyf keer ’n week op hierdie manier gekontak en so vroeg as 7:00 die oggend begin.

Suster Chloe Rodriguez (onder links), suster Melanie Alvarez (bo links) en suster Joselyn Horta (regs)

Joselyn verduidelik: “Ons het gepraat en saam geëet, en 7:30 het ons begin briewe skryf.” Nou en dan het een van die drie verslaap, en dan het die ander twee ’n vriendelike boodskap gestuur wat sê: “Goeiemôre! Staan op! Ons moet preek!”

Die meisies se opgewondenheid oor die predikingswerk het nie net mekaar aangemoedig nie, maar ook hulle vriende en familielede. Alicia, Joselyn se ma, sê: “Partykeer het ek nie lus gevoel om aan die veldbediening deel te neem nie, maar wanneer ek Joselyn daar sien sit, het ek vir myself gesê: ‘Ek wil ook aan die predikingswerk deelneem!’”

Dit maak Jehovah se hart baie bly om al die getroue jongmense te sien wat alles doen wat hulle kan in die bediening gedurende hierdie pandemie. – Spreuke 27:11.