Spring na inhoud

14 Junie 2018
VERENIGDE STATE

Hooggeregshof het 75 jaar gelede ’n presedent geskep as gevolg van ’n moedige standpunt

Hooggeregshof het 75 jaar gelede ’n presedent geskep as gevolg van ’n moedige standpunt

Negejarige Gathie Barnett en haar agtjarige suster, Marie, staan stil en respekvol terwyl hulle klasmaats die Amerikaanse vlag salueer. Hulle het geen idee gehad dat hulle deel van ’n baie belangrike hofsaak in 1943 in die Hooggeregshof sou wees omdat hulle getrou aan Jehovah gebly het en nie die vlag gesalueer het nie. Die Barnett-meisies het eenvoudig geglo dat hulle net aan God hulle lojaliteit moet belowe. Hulle word getel onder die duisende kinders van Jehovah se Getuies wat hulle Christelike gewete gevolg het. — Handelinge 5:29.

Omdat Gathie en Marie moedig geweier het om die vlag te salueer, is hulle uit Slip Hill-laerskool in Wes-Virginië geskors. Hulle pa het aangehou om die saak te appelleer totdat dit na die Hooggeregshof van die Verenigde State geneem is. Op 14 Junie 1943 het die hof beslis dat skole kinders nie kan dwing om die vlag te salueer nie. Die hof het dit ook duidelik gemaak dat Jehovah se Getuies glad nie “disrespekvol teenoor die vlag of die land is nie”. Drie jaar tevore in die saak Minersville School District v. Gobitis het die hof skole die reg gegee om studente te dwing om die vlag te salueer. Maar in die saak West Virginia State Board of Education v. Barnette het die hof teen hierdie beslissing gegaan. a

Regter Robert Jackson het die meerderheidsuitspraak van 6-3 vir die Hooggeregshof neergeskryf. Hierin het hy duidelik gesê dat die belangrikste beginsel in die Amerikaanse grondwet, ’n beginsel wat nooit sal verander nie, is dat geen regeringsamptenaar, belangrik of onbelangrik, die reg het om vir mense te sê wat hulle moet dink as dit by politiek, nasionalisme, godsdiens of enige ander saak van opinie kom nie. En niemand kan mense dwing om te praat of op te tree asof hulle glo wat die regering wil hê hulle moet glo nie.

Hoewel Getuie-kinders die eerstes was om deur hierdie beslissing bevoordeel te word, het Andrew Koppelman, ’n regsprofessor by Northwestern-universiteit, gesê: “Amerikaners wat omgee oor burgerlike regte, moet dankbaar wees teenoor Jehovah se Getuies, wat wrede en erge vervolging deurgemaak het in Amerika omdat hulle geveg het vir hulle burgerlike regte wat ons almal nog steeds geniet.”

Philip Brumley, ’n regsverteenwoordiger van Jehovah se Getuies, het verduidelik dat die beslissing nie net die wette in die Verenigde State beïnvloed het nie. Hy sê: “Die krag van die Barnette-saak kan gesien word in die feit dat Hooggeregshowe in Argentinië, Kanada, Costa Rica, Ghana, Indië, die Filippyne en Rwanda asook die Europese Hof van Menseregte almal die beslissing geprys het wat in die Barnette-saak gelewer is en het self beslissings gegee gebaseer op dieselfde redes.”

In 2006 is Gathie en Marie saam met welbekende en gerespekteerde geleerdes genooi om die belangrikheid van hulle saak te bespreek by die Robert H. Jackson-sentrum in New York. Marie het gesê: “Ek is veral bly dat dit die kinders ná ons gehelp het.” Gathie het bygevoeg: “Ek onthou nog toe my ouer seun na die hoof se kantoor gestuur is omdat hy nie die vlag wou salueer nie. Die hoof het vir hom gesê: ‘Dis duidelik dat jou onderwyser nie die beslissing deur die Hooggeregshof onthou nie.’”

Gathie het verwys na hoe alle Getuies van Jehovah voel deur te sê: “Ons respekteer die vlag en wat dit verteenwoordig. Ons het niks teen dit nie. Ons glo net nie dat ’n mens dit moet aanbid of salueer nie.” — 1 Johannes 5:21.

a Hofklerke het die Gobitas- en die Barnett-kinders se van verkeerd gespel.