Spring na inhoud

26 OKTOBER 2016
VERENIGDE STATE

Getuies verkoop Columbia Heights 97

Getuies verkoop Columbia Heights 97

Die elegante Margaret-hotel was baie jare lank die hoogste gebou in Brooklyn.

NEW YORK—Op Woensdag 26 Oktober 2016 het Jehovah se Getuies aangekondig dat hulle eiendom by Columbia Heights 97 in Brooklyn, New York, in die mark gesit is. Die woongebou met 11 verdiepings is op die noordelike grens van die pragtige geskiedkundige distrik van Brooklyn Heights en het ’n skilderagtige uitsig van die East-rivier en Manhattan.

Columbia Heights 97 was ontwerp met argitektuur wat pas by die ou hotel se koperversierings, terracotta-fasade en hoekvensters.

Die gebou staan op die plek waar die Margaret-hotel, wat in 1980 afgebrand het, eers gestaan het. Die argitek Stanton Eckstut is gevra om die nuwe woongebou te ontwerp. Hierdie ontwerp sluit argitektuur in wat pas by die voormalige hotel se koperversierings, terracotta-fasade en hoekvensters. In 1986, voordat die nuwe gebou klaar was, is die eiendom aan die Getuies verkoop. Sedertien het personeel van hulle hoofkwartier daar gewoon. David A. Semonian, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies by hulle wêreldhoofkwartier, sê: “Honderde van ons personeel het die afgelope 30 jaar Columbia Heights 97 hulle huis genoem. As gevolg van die gebou se aangename karakter en waar dit geleë is, is dit die ideale plek om te bly.”

Die gebou het ’n oppervlak van 8 232 vierkante meter, ’n daktuin en 97 wooneenhede, waarvan party privaat tuinbalkonne het. Daar is ook ’n garage met 30 parkeerplekke met ’n privaat ingang op Orange-straat.

Mnr. Semonian verduidelik: “Ons personeel en kantore is besig om te trek na ons nuwe wêreldhoofkwartier by Warwick, New York, waar ons al sedert 1 September 2016 begin werk het. Die verkoop van Columbia Heights 97 is deel van die proses om ons hoofkwartier te skuif.

Mediaverteenwoordiger:

David A. Semonian, Office of Public Information, 1-718-560-5000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000