Spring na inhoud

27 APRIL 2015
VERENIGDE STATE

Dorothy Covington, die vrou van Hayden Covington, ’n regsgeleerde wat gestry het vir burgerlike vryheid, sterf op 92

Dorothy Covington, die vrou van Hayden Covington, ’n regsgeleerde wat gestry het vir burgerlike vryheid, sterf op 92

Dorothy Mae Sennett Covington, wat in die 1940’s en 1950’s betrokke was by die stryd om die burgerlike vryheid van Jehovah se Getuies, het op 14 Maart 2015 op die ouderdom van 92 in Cincinnati, Ohio, gesterf.

Die stryd om grondwetlike regte

Gedurende die 1940’s het Dorothy haar vrywillig aangebied as ’n regsassistent vir die regsgeleerde Victor Schmidt, wat een van Jehovah se Getuies was en hom beywer het om hulle burgerlike regte te verdedig. Dit was ’n tyd van hewige vervolging vir Jehovah se Getuies in die Verenigde State, want nasionalisme het toegeneem namate die Tweede Wêreldoorlog vererger het. Die Getuies se neutrale standpunt in verband met nasionalistiese seremonies en hulle gewetensbeswaar teen diensplig was in stryd met die gees van daardie tyd. Die boek The Lustre of Our Country het gesê dat die “vervolging van Getuies van 1941 tot 1943 die grootste geval van godsdiensonverdraagsaamheid in die twintigste eeu in Amerika was”.

Die Getuies is aangeval deur oproerige skares en is regoor die Verenigde State, insluitende die gebied van Cincinnati, Ohio, en nabygeleë Indiana, in hegtenis geneem. Victor Schmidt het deur die hele streek gereis om Getuies van Jehovah te verdedig wat wederregtelik in hegtenis geneem is. Intussen het Dorothy nie net by Victor Schmidt se kantoor gehelp nie, maar ook moedig deelgeneem aan die openbare bediening ondanks die gevaar van massageweld.

Iets wat Dorothy nooit vergeet het nie, was die gebeure wat tot massageweld in Connersville, Indiana, gelei het. Slegs 17 dae ná die Hooggeregshof se ongunstige beslissing in die hofsaak van 1940 oor vlagsaluering, Minersville-skooldistrik teen Gobitis, het die polisiehoof in Connersville ses Getuies laat opsluit en hulle aangekla van ontheiliging van die vlag omdat hulle geweier het om ’n lapelspeld van die Amerikaanse vlag te salueer. Dit was in Connersville wat Victor Schmidt en Hayden Covington, die hoofregsverteenwoordigers van Jehovah se Getuies van 1939-1963, twee van die Getuies verdedig het wat later ook valslik van sameswering aangekla is.

Victor Schmidt

Ná sy slotpleidooi het mnr. Covington onmiddellik vertrek om ’n vlug te haal vir ’n hofsaak in Maine, maar Victor Schmidt en sy vrou het vir die uitspraak gebly. Daarna is hulle aangerand deur ’n oproerige skare wat al hoe groter geword het. Victor, sy vrou en ander het een hou na die ander verduur, maar hulle het uiteindelik ontsnap.

Tydens ’n onderhoud net drie weke voor haar dood, het Dorothy gesê dat 75 Getuies tien maande ná die beslissing opgesluit is in Connersville vir dieselfde valse aanklagte van sameswering. Dorothy het gesê: “Baie van ons is opgesluit, en dit was gedurende daardie tyd, die tyd van Connersville, dat die vervolging teen ons ’n hoogtepunt bereik het.”

Hayden Covington, Victor Schmidt en ander het voortgegaan om vir die burgerlike vryheid van Jehovah se Getuies te stry. Covington en Schmidt het dit reggekry om die skuldigbevindings in Connersville nietig te laat verklaar, en Covington het Schmidt met ander hofsake in die streek gehelp. Terwyl Dorothy hulle as ’n regsassistent gehelp het, het sy en Hayden vriende geword. Hulle het in 1949 getrou.

By die Getuies se wêreldhoofkwartier

Dorothy en Hayden Covington

Dorothy het na New York verhuis om Hayden met sy swaar werklas te help by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, en het voortgegaan om tyd aan haar openbare bediening te wy terwyl Hayden baie regstryde gevoer het. Covington is alombekend as een van die beste regsgeleerdes op die gebied van grondwetlike regte van sy tyd en het onvermoeid aan honderde hofsake gewerk in verband met die burgerlike vryheid van Jehovah se Getuies. Hy het die Getuies meer as 40 keer in die Hooggeregshof verdedig, en meer as 100 keer in federale appèlhowe.

Dorothy het saam met Hayden na die Hooggeregshof gegaan wanneer hy Getuies van Jehovah regoor die Verenigde State verdedig het. Sy het gesê: “Hayden het die vryhede bevorder wat ons soms vanselfsprekend aanneem. Ek dink dit is wonderlik dat hy sy lewe gebruik het om diegene te help wat dit nodig gehad het—nie net in die Verenigde State nie, maar ook op baie ander plekke.”

Gesinslewe en die bediening

In 1959 het Dorothy en Hayden ’n dogter met die naam Lynn gehad, en drie jaar later ’n seun, Lane. Uiteindelik, in 1972, het die gesin New York verlaat en na Ohio teruggekeer. Terwyl die kinders grootgeword het, het Dorothy die Bybel gebruik om hulle te onderrig en die bediening die middelpunt van haar lewe gemaak.

Die gesin het Hayden op 21 November 1978 aan die dood afgestaan. Dorothy het weer as ’n lettersetter begin werk vir verskeie koerante, insluitende The Cincinnati Enquirer. Haar werk met ’n Linotype-masjien was veeleisend en is selfs beskou as “’n man se werk” omdat dit behels het dat die masjien gelaai word met loodstawe wat gebruik is om ’n reël teks saam te stel. Toe Dorothy in 1988 afgetree het, het sy weer as ’n voltydse vrywilliger mense oor die Bybel geleer. Sy was bekend vir haar onblusbare ywer, haar deeglike Bybelkennis en haar vermoë om vrae te beantwoord deur dadelik na die gepaste Bybelteks te blaai.

Dorothy se seun, Lane, het voor haar gesterf, en Dorothy laat haar dogter, Lynn Elfers, agter; asook haar skoonseun, Gary Elfers; twee kleinkinders en haar jonger suster, Ruth Sennett Naids.