Spring na inhoud

14 FEBRUARIE 2017
VERENIGDE STATE

Getuies ontvang hoogste toekenning van GBI vir volhoubare ontwerp van hulle nuwe wêreldhoofkwartier

Getuies ontvang hoogste toekenning van GBI vir volhoubare ontwerp van hulle nuwe wêreldhoofkwartier

NEW YORK—Nadat Jehovah se Getuies hulle nuwe wêreldhoofkwartier in Augustus 2016 voltooi het, het hulle amptelike erkenning gekry vir die volhoubare ontwerp van hulle nuwe geboue in Warwick, New York. Die Green Building Initiative (GBI) is ’n organisasie wat ’n program aanbied wat die impak van kommersiële geboue op die omgewing bepaal en sertifiseer. Die Getuies het die hoogste toekenning van vier Green Globes by die GBI gekry vir hulle sewe geboue in Warwick.

Shaina Weinstein, ’n senior direkteur by GBI, sê: “Regoor die land was daar 965 projekte, maar daar was net 64 geboue wat die hoogste toekenning van vier Green Globes ontvang het. Dit is merkwaardig dat Jehovah se Getuies vier Green Globes vir elkeen van hulle sewe geboue in Warwick ontvang het. Hierdie prestasie wys dat die Getuies vasbeslote is om water en energie doeltreffend te gebruik en om die omgewing te beskerm.”

Die Green Globes-graderingstelsel, met vergunning van GBI. Die sewe geboue van die Getuies se hoofkwartier wat vir oorweging gekwalifiseer het, het almal ’n gradering van ten minste 90 persent behaal. Dit is gelykstaande aan vier Green Globes.

Volgens die amptelike webwerf van die GBI is hulle “’n niewinsgewende organisasie wat daarop gemik is om boutegnieke te bevorder wat hulpbronne doeltreffend gebruik sodat geboue opgerig en in stand gehou word sonder om die omgewing te beskadig.” Die GBI gebruik ’n graderingstelsel om te bepaal hoe volhoubaar die ontwerp en instandhouding van nuwe geboue is. As deel van die graderingsproses word ’n onafhanklike deskundige na die bouterreine gestuur om seker te maak dat die GBI se gradering reg is.

David Bean, ’n koördineerder van volhoubare ontwerp vir die Getuies se geboue in die Verenigde State, sê: “Ons waardeer hierdie toekennings, want dit erken die toewyding van almal wat betrokke was by hierdie projek. Ons het ’n kampus opgerig wat ’n voorbeeld is van hoe verskillende volhoubare ontwerpe toegepas kan word. Die kampus pas ook pragtig in by die omgewing van die Sterling Forest-natuurreservaat.”

Die dak van die Kantore/Dienstegebou waarop inheemse plante geplant is. Die dak is eers met ’n membraan waterdig gemaak. Om water te bespaar, word reënwater behandel en dan gebruik.

Die Getuies het van die begin af beplan om soveel bome as moontlik op die eiendom te bewaar. Die bome wat wel afgekap moes word, is vir die bouprojek gebruik. Jeffrey Hutchinson, die voormalige parkhoof van Sterling Forest, sê: “Ek het dit waardeer dat die bome wat afgekap moes word om die bouterrein voor te berei, weer gebruik is om nuwe geboue op te rig. Wat die Getuies vir die omgewing gedoen het, is fantasties.” Shaina Weinstein sê ook: “Ons beskou die Warwick-projek as ’n uitstekende voorbeeld van ontwerp en boutegnieke wat die omgewing in ag neem.”

Richard Devine, wat die voorsitter van die Getuies se komitee vir die bouprojek by Warwick was, verduidelik: “Ons organisasie het dekades lank die voorkoms van ons pragtige eiendomme in Brooklyn bewaar. Ons sien nou daarna uit om ons omgewingsvriendelike geboue in Warwick in stand te hou en om die skoonheid van Sterling Forest te bewaar.”

Mediaverteenwoordiger:

David A. Semonian, Office of Public Information, 1-845-524-3000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000

 

Die Getuies se nuwe wêreldhoofkwartier in Warwick, New York, beslaan minder as 20 persent van die eiendom van 102 hektaar wat hulle op 17 Julie 2009 gekoop het.

Om erosie op walle te voorkom, is dit bedek met growwe materiaal en klippe van verskillende groottes.

Groot klippe moes verwyder word om die bouterrein voor te berei. Meer as 240 000 ton klip wat verwyder is, is weer op die terrein gebruik.

Om te keer dat modder van die bouterrein die water van Blue Lake modderig maak, is ’n troebelheidskerm naby die oewer geplaas. Die skerm bestaan uit drie dele. Die boonste gedeelte dryf, dan is daar ’n waterdigte materiaalgordyn wat hieraan vas is. Daar is ook ’n ysterketting vas aan die onderkant van die gordyn om dit te anker sodat dit as ’n skerm kan dien.

Groot industriële herwinningshouers. Meer as 70 persent bou-rommel het nie op plaaslike stortterreine beland nie. Dit is eerder na goedgekeurde herwinningsentrums gestuur.

Werkers plant plante naby die hoofingang van die Getuies se wêreldhoofkwartier. Die tuinuitleg maak gebruik van inheemse bome, plante en grondbedekking.

Werkers installeer geotermiese traliewerk as deel van die geotermiese stelsel wat vloeistof 152 meter onder die grond sirkuleer. Ondergrondse temperature bly matig, maar bo die grond verskil temperature in die somer en in die winter baie. ’n Geotermiese stelsel maak gebruik van die stabiele ondergrondse temperature. In die winter absorbeer die vloeistof wat gesirkuleer word, die hitte van die grond, en dit word dan gebruik om die geboue te verhit. In die somer word die vloeistof weer gebruik om die geboue te verkoel. Daar word verwag dat die Getuies se geotermiese stelsel die energieverbruik van die geboue met tot 40 persent sal verminder.

Binne die Kantore/Dienstegebou. Die afwerking van die gebou aan die binnekant (bv. verf en die materiaal waarvan die mure en plafonne gemaak is) voldoen aan die standaarde van die Green Building Initiative. Die boumateriaal wat gebruik is, is goed vir die omgewing asook mense se gesondheid.