Spring na inhoud

1 NOVEMBER 2016
VERENIGDE STATE

Getuies herstel 60 jaar oue dam in Warwick

Getuies herstel 60 jaar oue dam in Warwick

NEW YORK—In Augustus 2016 het Jehovah se Getuies die konstruksie van hulle wêreldhoofkwartier in Warwick, New York, voltooi. Saam met hierdie bouprojek het die Getuies ook, met die hulp van SUEZ Water New York Inc., die Blue Lake-dam herstel.

Kort nadat die Getuies die eiendom in 2009 gekoop het, het hulle beplan om die Blue Lake-dam wat in ’n baie swak toestand was, te herstel. Die dam (in die voorgrond op die prent hierbo) is reg langs die Getuies se nuwe wêreldhoofkwartier, en dit dam die water van Blue Lake (ook bekend as Sterling Forest-meer) op. ’n Verdere inspeksie deur die Departement van Omgewingsbewaring (DEC) het bevestig dat die dam lek en dat die uitlaatklep buite werking was. Omdat The Woodlands at Tuxedo-kompleks, waarin daar 195 huise is, net sowat ’n kilometer van Blue Lake af is, het die DEC die dam as ’n hoë-risiko geklassifiseer.

Die Getuies se nuwe wêreldhoofkwartier (links onder) is reg langs Blue Lake-dam (middel regs).

Jeffrey Hutchinson, die voormalige parkhoof van die Sterling Forest-natuurreservaat.

Jeffrey Hutchinson, wat toe die parkhoof van die Sterling Forest-natuurreservaat was, het gesê: “Dit was duidelik dat die dam gelek het en as dit gebreek het, sou daar ernstige gevolge gewees het. Al die huise in die Woodlands-kompleks, of die meeste van hulle, kon heeltemal weggespoel het.”

Robert  R. Werner, president van The Woodlands at Tuxedo se vereniging van huiseienaars, sê: “Dis vir my duidelik dat as Jehovah se Getuies nie ingespring het nie, sou hierdie projek eers aan die gang gekom het nadat die dam gebreek het. As dit gebeur het, kon dit tot ’n verlies van eiendom en lewens gelei het.”

The Woodlands at Tuxedo-kompleks (links bo) is omtrent net ’n kilometer van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies (regs onder) en Blue Lake-dam.

Mnr. Hutchinson sê ook: “In 2011 het die Echo Lake-dam, wat minder as 50 kilometer van Blue Lake af is, gebreek en dele van die East Village in Tuxedo, New York, heeltemal weggespoel.” Dorpsingenieurs skat dat ’n verwoestende golf van omtrent 400 miljoen liter water met die Ramapo-rivier afgekom het toe die Echo Lake-dam gebreek het. Echo Lake het ’n oppervlakte van 5,2 hektaar—baie kleiner as Blue Lake se oppervlakte van 46,5 hektaar.

Die Blue Lake-dam, wat in 1956 gebou is, is aan die oostelike kant van die meer en het oorspronklik uit twee dele bestaan: ’n gronddam en ’n primêre beton-oorloop (waar oortollige water wegvloei). ’n Veiligheidsklep, wat gebruik word om die watervlak te verlaag tydens ’n noodgeval, is ook by die onderkant van die meer ingesit.

Richard Devine, voorsitter van die Getuies se bouprojekkomitee by Warwick, verduidelik: “Ons is bly dat die projek om die dam te herstel, suksesvol was, en ons waardeer die hulp wat ons van SUEZ Water ontvang het. Ons bouspan het die damwal versterk, die ou stukkende klep vervang, nog ’n oorloop gebou en die primêre beton-oorloop hoër gemaak en versterk. Nou dat die projek voltooi is, voldoen die dam aan veiligheidswette en -standaarde.”

Mnr. Hutchinson som sy beskouing van die Getuies en hulle werk aan die projek, soos volg op: “Julle doen baie vir die plaaslike gemeenskappe en help waar julle kan. Die gehalte van julle bouwerk is baie hoog en ook omgewingsvriendelik.”

Mediaverteenwoordiger:

David A. Semonian, Office of Public Information, 1-718-560-5000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000

 

Wagtoring-personeel verwyder die stukkende uitlaatklep aan die onderkant van Blue Lake. Met hierdie klep kan die watervlak veilig verminder word wanneer dit nodig is.

’n Silinder van traliewerk word by die onderkant van die meer geïnstalleer om te keer dat groot stukke vullis in die uitlaatklep ingesuig word wanneer dit oopgemaak word.

Wagtoring-personeel maak die primêre oorloop breër. Afloopwater van Blue Lake vloei oor die primêre oorloop in ’n stroompie daar naby.

Konstruksiewerkers verhoog die betonkante van die primêre oorloop met omtrent ’n meter en maak krake in die struktuur reg.

Swak gehalte grond word met spesiale gruis vervang. Omtrent 19 000 kubieke meter was nodig om die dam te versterk.

Die spesiale gruis word gelykgemaak en gekompakteer.

Die tuinspan het bogrond oor die gruis gesit en inheemse grasse aangeplant sodat die dam by die omliggende omgewing kan inpas.