6 MEI 2016
VERENIGDE STATE
Jehovah se Getuies verkoop hulle eiendom in geskiedkundige Brooklyn Heights
NEW YORK—Op Dinsdag 26 April 2016 het Jehovah se Getuies die gebou by Columbia Heights 124 in Brooklyn, New York, verkoop. Die woongebou van meer as 14 121 vierkante meter, met sy ikoniese wagtoring bo-op die dak, is by die noordelike ingang van die Brooklyn Heights Promenade geleë. Die eiendom is in Desember 2015 geadverteer, en ná ’n mededingende bieëry, is ’n koper gekies wat nog nie voorheen een van die Getuies se geboue gekoop het nie.
Die oorspronklike bruinsteengebou met vier verdiepings by Columbia Heights 124 was van 1856 tot 1881 die tuiste van Henry Ward Beecher, die beroemde afskaffer en pastoor van die Plymouth Kerk. The New York Times het verslag gelewer oor die eiendom se historiese betekenis en gesê dat “dit in hierdie huis was dat president Lincoln Mr. Beecher na bewering besoek het kort voor die Vrylatingsproklamasie geteken is”. In Mei 1909 het die Getuies die bruinsteengebou gekoop waarna hulle verskeie aangrensende eiendomme gekoop het wat vandag die tienverdiepinggebou uitmaak wat ’n hele stadsblok beslaan.
’n Woordvoerder vir Jehovah se Getuies, Richard Devine, sê: “Ons beskou Columbia Heights 124 as een van ons organisasie se erfenisse. Dit was reeds in 1909 hoofsaaklik as ’n woonplek vir ons hoofkantoorpersoneel gebruik. Columbia Heights 124 is vanaf 1929 tot 1957, met die uitsondering van vier jaar, ook gebruik vir ons vorige radiostasie, WBBR, wat Bybeltoesprake en verwante uitsendings uitgesaai het.”
Hoewel die Getuies al meer as 100 jaar deel is van die Brooklyn Heights-gemeenskap, was die oorspronklike hoofkwartier van hulle regsentiteit Watch Tower Bible and Tract Society in die 1880’s in Allegheny (nou deel van Pittsburgh), Pennsylvania, gestig. David A. Semonian, woordvoerder by die Getuies se wêreldhoofkwartier, sê: “Die skuif in 1909 na ’n hawestad soos Brooklyn was op daardie tydstip noodsaaklik vir die uitbreiding en bespoediging van ons wêreldwye Bybelonderrigtingswerk.”
Die feit dat Columbia Heights 124 verkoop is, is die jongste verwikkeling in die Getuies se verskuiwing van hulle hoofkwartier na hulle kompleks van amper 20 hektaar wat binnekort in Warwick, New York, voltooi gaan word. Mr. Semonian voeg by: “Die verskuiwing na ons nuwe fasiliteit in die noorde wat gebou is om by ons behoeftes te pas, is presies wat ons nou nodig het. Brooklyn was vir meer as 100 jaar ons tuiste, en Warwick sal ons tuiste wees vir ’n nuwe era in ons geskiedenis.”
Mediaverteenwoordiger:
David A. Semonian, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000