Spring na inhoud

27 FEBRUARIE 2015
VERENIGDE STATE

Getuies wen belangrike toekennings vir die ontwerp en konstruksie van omgewingsvriendelike geboue

Getuies wen belangrike toekennings vir die ontwerp en konstruksie van omgewingsvriendelike geboue

NEW YORK—Jehovah se Getuies, welbekend vir hulle wêreldwye Bybelonderrigtingswerk, ontvang erkenning vir die voortreflike ontwerp en konstruksie van omgewingsvriendelike geboue.

Die Green Building Initiative (GBI) het sertifikate uitgereik vir twee nuwe geboue by die Getuies se takfasiliteite in die Verenigde State in Wallkill, New York: die Watchtower Farms se woongebou F, wat laat in 2012 voltooi is, en die Wallkill-kantoorgebou, wat in 2014 voltooi is. Albei geboue het die grootste toekenning van vier Green Globes ontvang.

Wallkill-kantoorgebou

Shaina Sullivan, bemarkingsdirekteur vir GBI, sê: “Wêreldwyd het minder as 4 persent van al die geboue wat as deel van die program beoordeel is, hierdie uitmuntende toekenning van vier Green Globes ontvang.” Me. Sullivan het bygevoeg dat die Wallkill-kantoorgebou “die eerste nieresidensiële projek in die staat New York is wat hierdie toekenning ontvang het”. Jenna Middaugh, projekbestuurder vir GBI, het gesê: “Van die 23 geboue [in die Verenigde State] wat sedert 2006 vier Green Globes ontvang het, het die Wallkill-kantoorgebou die hoogste gradering ontvang, met 94 persent.”

Watchtower Farms se woongebou F

GBI bestuur Green Globes as ’n kommersiële beoordelingstelsel en sertifikaatprogram wat gebruik maak van ’n derde party op die bouterrein om te beoordeel of die ontwerp en konstruksie van die projek omgewingsvriendelik is. Om ’n Green Globes-toekenning te ontvang, moet die bouterrein op ’n omgewingsvriendelike manier ontwerp word wat waterverbruik beheer, die verbruik van energie en die vrystelling van kweekhuisgasse verminder, die uitwerking op natuurlike hulpbronne beperk deur die keuse van gepaste materiaal en heilsame toestande binne die geboue skep.

Sonpanele voorsien ten minste 10 persent van die krag wat nodig is vir die Wallkill-kantoorgebou—net een aspek van die gebou se bekroonde volhoubare ontwerp.

David Bean, koördineerder van volhoubare ontwerp vir die Getuies se fasiliteite in die Verenigde State, sê: “Hierdie toekennings getuig van die hoë standaard van ontwerp en konstruksiewerk wat ons vir al ons projekte stel. Ons streef ook na Green Globe-sertifikate met die ontwerp en konstruksie van ons nuwe wêreldhoofkwartier in Warwick, New York.”

’n Omgewingsvriendelike dak word aangelê, een van die volhoubare kenmerke van die Getuies se nuwe wêreldhoofkwartier in Warwick, New York.

Zeny St. Jean, wat vir Jehovah se Getuies bouprojekte regoor die wêreld koördineer vanaf hulle wêreldhoofkwartier, sê: “Hoewel dit ons hoofdoel is om Bybelonderrig te bevorder, waardeer ons hierdie toekennings as professionele erkenning van die omgewingsvriendelike ontwerp en konstruksie wat ons by al ons fasiliteite regoor die wêreld probeer toepas.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000