31 MEI 2013
VERENIGDE STATE
Jehovah se Getuies knap historiese vergaderplek vir Bybelonderrig op
NEW YORK—Op 13 April 2013 het Jehovah se Getuies die historiese Stanley-teater in Jersey City, New Jersey, ná ses maande van opknappingswerk heropen. Die Getuies gebruik die Stanley al byna 30 jaar lank as ’n Byeenkomssaal vir groot openbare Bybelseminare. Ná hierdie opknapping is die gebou beter geskik as ’n sentrum vir gratis Bybelonderrig.
Nuwe sitplekke maak die teater gemakliker vir die meer as 250 000 wat elke jaar programme by die teater bywoon. Die hoofouditorium en aangrensende vertrekke is toegerus met ’n gesofistikeerde videostelsel wat hoofsaaklik bedoel is vir aanbiedings in Amerikaanse Gebaretaal.
Die opknappingswerk is feitlik heeltemal gedoen deur Getuies van Jehovah wat aangebied het om met hierdie projek te help. Die vrywilligers het uit verskillende dele van die Verenigde State gekom om te help met die verbeteringswerk aan ’n ou gebou met ’n unieke geskiedenis.
Die Stanley-teater is in die laat 1920’s in New Jersey opgerig. Dit was een van die grootste rolprentteaters wat nog ooit in die Verenigde State gebou is. Die teater moes in 1978 gesluit word, maar in 1983 het Jehovah se Getuies die historiese teater van ondergang gered. Sedert die teater se deure in 1985 heropen is, gebruik die Getuies dit as ’n vergaderplek vir Bybelonderrig.
J.R. Brown, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies, sê oor die onlangse opknapping: “Die Stanley-teater word hoofsaaklik gebruik as ’n huis van aanbidding, waarheen mense van meer as 15 taalgroepe kan kom om oor die Bybel te leer. Maar die gemeenskap van New Jersey waardeer die teater ook, en ons organisasie is bly dat dit hierdie geskiedenis kan help bewaar.”
Mediaverteenwoordiger(s):
Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000