Spring na inhoud

10 JULIE 2013
VERENIGDE STATE

Jehovah se Getuies onderteken kontrak om kompleks in Brooklyn te verkoop

Jehovah se Getuies onderteken kontrak om kompleks in Brooklyn te verkoop

NEW YORK—Op 5 Julie 2013 het Jehovah se Getuies ’n kontrak onderteken om ’n kompleks van vyf geboue in Brooklyn, New York, wat hulle vroeër as ’n drukkery gebruik het, asook ’n woongebou met 30 verdiepings, aan die RFR and Kushner Companies te verkoop. Die Getuies sal reeds in Augustus vanjaar die kompleks begin ontruim. Die woongebou sal in 2017 ontruim word.

“Baie pendelaars en besoekers in die stad New York sien die tekens ‘Read God’s Word the Holy Bible Daily’ en ‘Read The Watchtower and Awake!’ op hierdie geboue wanneer hulle die Brooklyn Bridge oorsteek”, sê David Semonian, ’n mediawoordvoerder vir Jehovah se Getuies. “Die werk wat hier gedoen is, het jare lank ’n groot deel uitgemaak van ons organisatoriese geskiedenis en ons teenwoordigheid in Brooklyn.” Die Getuies het 77 jaar lank die kompleks van vyf geboue gebruik om Bybels en Bybelopvoedkundige lektuur in baie tale te publiseer. Die eerste van hierdie geboue is in 1927 in gebruik geneem, en aangrensende eiendomme is vanaf 1937 bygevoeg. Die 30-verdiepingwoongebou het huisvesting verskaf aan omtrent duisend werkers, wat in die drukkery kon gaan werk sonder om die fasiliteit te verlaat.

Die Getuies verkoop die geboue omdat hulle na die noorde van die staat New York trek. Hulle het in 2004 hiermee begin deur hulle drukkery, boekbindery en versendingsafdeling in die Verenigde State na Wallkill, New York, te verskuif. Die Getuies beplan tans om hulle wêreldhoofkwartier na Warwick, New York, te verskuif, waar die bouwerk later vanjaar sal begin.

Mnr. Semonian voeg by: “Ons koester ons lang geskiedenis in Brooklyn. Ons het hierdie geboue gebruik om praktiese Bybellektuur te vervaardig wat mense regoor die wêreld help. Nou sien ons daarna uit om ons nuwe fasiliteite in Warwick te gebruik om ons wêreldwye Bybelonderrigtingswerk te bevorder.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000