Spring na inhoud

13 MEI 2015
VERENIGDE STATE

Jehovah se Getuies open ’n vertaalkantoor in Florida vir Amerikaanse Gebaretaal

Jehovah se Getuies open ’n vertaalkantoor in Florida vir Amerikaanse Gebaretaal

FORT LAUDERDALE, Florida—Op 14 November 2014 het Jehovah se Getuies hulle vertaalspan vir Amerikaanse Gebaretaal (ASL) begin skuif van die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, na Fort Lauderdale, Florida. Die Getuies het die Bybel en hulle Bybelpublikasies sedert 1995 by hulle fasiliteit in Patterson in ASL vertaal. Die afgelope paar maande het die Getuies nuwe kantore en opname-ateljees by die eiendom in Fort Lauderdale ingerig. Die Getuies se ASL-vertaalkantoor is vanaf Mei 2015 aan die gang.

Die Getuies stel hulle ASL-video’s beskikbaar op die webwerf jw.org en op DVD. Hulle sluit dit ook gereeld in by hulle weeklikse vergaderinge wat in meer as 500 gemeentes regoor die wêreld gehou word, asook geleenthede wat by groot vergaderplekke gehou word, insluitende halfjaarlikse byeenkomste en jaarlikse streekbyeenkomste.

“Ons probeer seker maak dat ons video’s maklik verstaanbaar is vir die meerderheid mense wat ASL gebruik, ongeag watter land hulle vandaan kom of hoeveel opvoeding hulle gekry het”, sê Jonathan Galvez, wat die Getuies se ASL-vertaalspan in Florida koördineer. Hy sê verder: “Daar is sowat 45 lande waar ASL gebruik word en, soos dit die geval is met gesproke tale, verskil die manier waarop dowe mense hulle uitdruk, van streek tot streek. Noudat ons in Fort Lauderdale werk, is ons vertalers in ’n stad met ’n groter en uiteenlopender bevolking van internasionale ASL-gebruikers.”

In 2014 het Frank Bechter, wat ’n doktorsgraad in sosiaal-kulturele en taalkundige antropologie het, ’n ASL-streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Richmond, Virginië, bygewoon as deel van sy taalkundige en antropologiese navorsing in verband met gebaretaal en die dowe gemeenskap. Dr. Bechter sê: “By die geleentheid in Richmond kon ek duidelik sien dat julle organisasie daartoe toegewyd is om ASL-vertalings en aanbiedings van ’n hoë gehalte te voorsien, veral weens die herhaalde gebruik van julle goed voorbereide videovertalings van Bybelverse. Ek het die ASL wat daarin gebruik is, uitstekend gevind.” Hy sê verder: “Ek waardeer die Getuies se werk om ’n goeie vertaling van die Bybel in ASL te voorsien, aangesien dit ’n baie belangrike dokument in ons samelewing en in die geskiedenis van die wêreld is. En ek glo dat dowe mense, net soos enigiemand anders, maklike toegang moet hê tot die belangrike dokumente wat ons wêreld gevorm het.”

Vertaalspanne van Jehovah se Getuies regoor die wêreld het etlike videopublikasies gratis in sowat 80 gebaretale vervaardig en versprei. Jehovah se Getuies het ook JW Library Sign Language vervaardig, wat gebruikers in staat stel om gebaretaalvideo’s maklik van jw.org af te laai, te organiseer en te speel.

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000