Spring na inhoud

15 NOVEMBER 2018
VERENIGDE STATE

Veldbrande verwoes Kalifornië

Veldbrande verwoes Kalifornië

Jongste nuus: Die takkantoor in die Verenigde State het bevestig dat ’n 70-jarige broer van Paradise, Noord-Kalifornië, ook as gevolg van Camp Fire gesterf het.

Drie groot veldbrande in Kalifornië, Verenigde State, het die dood van 48 mense asook baie groot skade veroorsaak. Die grootste van die drie brande, wat bekend staan as Camp Fire, woed nog voort in Noord-Kalifornië. Dit het alreeds 47 000 hektaar afgebrand en omtrent 7 100 geboue, waarvan die meeste huise is, verwoes. In Suid-Kalifornië het twee brande, Hill Fire en Woolsey Fire, altesaam 38 000 hektaar afgebrand en omtrent 435 geboue vernietig. Volgens een nuusverslag is die aantal hektaar wat die veldbrande hierdie jaar in Kalifornië afgebrand het, gelyk aan “’n gebied wat groter is as België en Luxemburg”.

Volgens die takkantoor in die Verenigde State was ongeveer 427 verkondigers as gevolg van Camp Fire gedwing om uit Chico en Paradise te vlug. Ongelukkig het ’n ou suster in die Ponderosa-gemeente as gevolg van die brande gesterf. Daar is ook bevestig dat daar op hierdie stadium ten minste 94 huise van ons broers heeltemal verwoes of erg beskadig is. Een Koninkryksaal in Paradise het ook heeltemal afgebrand.

As gevolg van die Hill- en Woolsey-brande moes 420 verkondigers uit die stede Oxnard, Simi Valley en Thousand Oaks padgee. Ongelukkig het een broer en sy ma wat nie ’n Getuie was nie, in Malibu gesterf terwyl hulle van die brande probeer wegvlug het. Omtrent 21 huise van ons broers sowel as een Koninkryksaal is beskadig.

Die takkantoor het twee Noodlenigingskomitees gevorm om in die behoeftes van ons broers om te sien. Die plaaslike ouer manne, onder leiding van hulle kringopsieners, vertroos en gee praktiese hulp aan die verkondigers wat deur hierdie veldbrande geraak is. Op Saterdag 10 November is ’n spesiale program vir meer as 270 broers en susters in Chico gehou. ’n Lid van die Takkomitee van die Verenigde State en plaaslike kringopsieners het aanmoedigende Bybeltoesprake gelewer.

Ons bid dat ons broers en susters wat deur hierdie moeilike situasie gaan, deur Jehovah vertroos en versterk sal word. Ons weet dat hy binnekort ons trane sal afvee en die dood vir ewig sal wegneem. — Jesaja 25:8.