Spring na inhoud

8 SEPTEMBER 2014
VERENIGDE STATE

Lillian Gobitas Klose, wat in 1940 as skoolmeisie by ’n geskiedkundige Hooggeregshofsaak betrokke was, sterf op 90

Lillian Gobitas Klose, wat in 1940 as skoolmeisie by ’n geskiedkundige Hooggeregshofsaak betrokke was, sterf op 90

NEW YORK—Lillian Gobitas Klose, wat weens haar besluit om nie die vlag te salueer nie, by ’n geskiedkundige Hooggeregshofsaak in die Verenigde State betrokke was, het op 22 Augustus 2014 in haar huis in Fayetteville, Georgia, gesterf. Sy was 90 jaar oud.

William Henry Gobitas (heel links), Walter Gobitas en Lillian Gobitas in 1935, nadat die kinders uit die skool geskors is omdat hulle nie die vlag gesalueer het nie.

’n Brief wat Lillian Gobitas in 1935 aan die Minersville-skoolraad geskryf het om haar geloof te verdedig.

Lillian Gobitas en haar jonger broer William, wat al twee Jehovah se Getuies was, het self besluit om op te hou om die vlag te salueer nadat hulle op 6 Oktober 1935 ’n nasionale radio-uitsending gehoor het wat gehandel het oor die Bybel se gebooie teen afgodediens. ’n Paar weke later is hulle weens hulle standpunt uit die skool geskors. Hulle pa, Walter, het ’n saak aanhangig gemaak om die regte van sy kinders te beskerm en het in die plaaslike howe gewen. Die skoolraad het by die Hooggeregshof appèl aangeteken, en op 3 Junie 1940 is daar in die hofsaak Minersville School District v. Gobitis (die gesin se naam is in die hofverslae verkeerd gespel) teen die Gobitas-gesin beslis. Drie jaar later, op Vlagdag, 14 Junie 1943, het die Hooggeregshof die Gobitis-beslissing van 1940 ter syde gestel in sy beslissing in die saak West Virginia State Board of Education v. Barnette, wat Getuie-kinders toegelaat het om weer terug te gaan skool toe. Dit was die eerste keer in die geskiedenis van die Verenigde State dat die Hooggeregshof in so ’n kort tyd van standpunt verander het.

Lillian Gobitas is op 2 November 1923 gebore in Minersville, Pennsilvanië. Haar ouers was Walter en Ruth Gobitas. Sy is op 14 Maart 1935 as een van Jehovah se Getuies gedoop. Op die ouderdom van 20 het me. Gobitas ’n voltydse Bybelonderrigter (wat Getuies ’n gewone pionier noem) geword, en later, van Februarie 1946 tot April 1953, het sy by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gewerk.

Lillian en haar man, Erwin Klose, as sendelinge in Wene, Oostenryk, in 1954.

In 1951, terwyl me. Gobitas byeenkomste van Jehovah se Getuies in Europa bygewoon het, het sy Erwin Klose by die Getuies se takkantoor in Duitsland ontmoet. Hulle het kontak behou terwyl mnr. Klose die Wagtoring-Bybelskool Gilead, die Getuies se skool vir sendelinge, bygewoon het, wat in South Lansing, New York, gehou is. Hy het in 1952 gegradueer en ’n toewysing in Wene, Oostenryk, aanvaar. Me. Gobitas het ook in Februarie 1954 aan die Getuies se skool vir sendelinge gegradueer.

Op 24 Maart 1954 het sy en mnr. Klose in Wene getrou, en daarna het hulle saam as sendelinge in Oostenryk gedien. Aan die einde van daardie jaar het hulle na die Verenigde State teruggekeer omdat mnr. Klose se gesondheid agteruitgegaan het. Dit was die gevolg van die wrede behandeling wat hy in ’n Nazi-konsentrasiekamp verduur het omdat hy een van Jehovah se Getuies was. Hulle het later twee kinders gehad, Stephen Paul en Judith Deborah. In 1967 het die Klose-gesin hulle bediening uitgebrei deur te trek na Riverdale, Georgia, waar hulle hulle Bybelonderrigtingswerk voortgesit het.

Me. Gobitas Klose laat haar dogter, Judith Klose, agter, asook twee susters, Jeanne Fry en Grace Reinisch en ’n broer, Paul Gobitas. Haar man, haar ouers, haar broer William Gobitas, haar suster Joy Yubeta en haar seun, Stephen Paul Klose, is voor haar oorlede.

Mediakontak(te):

Internasionaal: J. R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000