Spring na inhoud

28 APRIL 2017
VERENIGDE STATE

Omtrent 400 mense woon ’n ope dag by Jehovah se Getuies se nuwe wêreldhoofkwartier by

Omtrent 400 mense woon ’n ope dag by Jehovah se Getuies se nuwe wêreldhoofkwartier by

NEW YORK—Op Saterdag 22 April 2017 het Jehovah se Getuies die eerste van twee spesiale ope dag-onthale by hulle nuwe wêreldhoofkwartier in Warwick, New York, gehou. Troy Snyder, bestuurder van die fasiliteite by die wêreldhoofkwartier, sê: “Ons hoofkwartier word gedurende die week deur gemiddeld 1 150 mense per dag besoek. Maar ons wou graag oor hierdie twee naweke ons deure oopmaak om ons bure wat nie Getuies is nie, en ander wat ons ondersteun het terwyl die bouprojek aan die gang was, te bedank.”

Altesaam 395 mense het die ope dag-onthaal op die eerste Saterdag bygewoon. Dit het 205 plaaslike inwoners asook 190 verskaffers en boukontrakteurs ingesluit. Verversings is bedien en die gaste is op ’n 40 minuut lange toer van die gronde geneem. Daar is ook ’n kort video gewys en daarna is persone die geleentheid gegee om vrae te vra.

Christopher Gow, ’n inwoner van Tuxedo Park, New York, en ’n lid van die dorp se adviesraad oor bome.

Christopher Gow, ’n inwoner van die nabygeleë Tuxedo Park, het gesê: “Ek was nogal nuuskierig en het met graagte die uitnodiging aanvaar om die fasiliteit te besoek. Ek het geweet van die bouprojek, maar dit is op so ’n stil en bedagsame manier gedoen dat ons amper nie kon glo dat dit gebeur het nie.”

Die Getuies het hulle nuwe hoofkwartier op die oewers van die Blue Lake-dam in die Sterling Forest-natuurreservaat gebou. Daarom het baie van die plaaslike inwoners gesê dat hulle die ope dag bygewoon het omdat hulle wou sien watter impak die bouprojek op die omgewing gehad het.

Dr. Richard Hull, emeritusprofessor van geskiedenis by die universiteit van New York en die amptelike geskiedkundige van die dorp Warwick, New York.

Dr. Richard Hull, ’n inwoner van Warwick, is ’n emeritusprofessor van geskiedenis by die universiteit van New York en die dorp se amptelike geskiedkundige. Hy sê: “Ek bestudeer die omgewing al meer as 50 jaar lank. Die Getuies het dit reggekry om die omgewing te beskerm gedurende hulle bouprojek en selfs die park se natuurlewe te respekteer.”

Ná ’n toer van die fasiliteit het mnr. Gow, wat ook ’n lid van die Tuxedo Park Adviesraad vir Bome is, gesê: “Alles hier is van ’n baie hoë gehalte. Die Getuies het fantastiese werk gedoen. Julle omgewingsvriendelike fasiliteit is inspirerend en ’n voorbeeld wat ons almal kan volg.”

Ná die begeleide toer kon besoekers op hulle eie drie uitstallings op die vloere bo en onder die openbare voorportaal besoek. Twee van hierdie uitstallings beeld die geskiedenis asook die hedendaagse bedrywighede van Jehovah se Getuies regoor die wêreld uit. Die derde uitstalling bevat baie ou Bybels en geskiedkundige voorwerpe wat met die Bybel verband hou.

Dr. Hull het afgesluit deur te sê: “Die fasiliteit is modern en volgens die nuutste boumetodes gebou. Dit is duidelik dat daar baie beplanning in die bou van hierdie kompleks ingegaan het. Ek het nog nie die toer van die museum gedoen nie, maar ek sien daarna uit om terug te kom.”

Mnr. Snyder sê: “Ons wou graag vir die plaaslike gemeenskap dankie sê vir hulle ondersteuning en omdat hulle ons so welkom laat voel het. Daarom het ons hierdie twee ope dag-onthale spesiaal gereël vir ons bure wat nie Getuies is nie.” Nie almal wat uitnodigings ontvang het of wat in die omgewing woon, kon Saterdag 22 April 2017 die ope dag-onthaal bywoon nie. Daarom is ’n tweede onthaal gereël vir Saterdag 29 April 2017.

Mediaverteenwoordiger:

David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000