Spring na inhoud

14 SEPTEMBER 2017
VERENIGDE STATE

Getuies in die Verenigde State verwerk die impak van orkaan Harvey

Getuies in die Verenigde State verwerk die impak van orkaan Harvey

Jongste nuus: Ongelukkig is daar berig dat een bejaarde suster gesterf het as gevolg van orkaan Harvey.

NEW YORK — Op Vrydag 25 Augustus 2017 het orkaan Harvey, ’n kategorie 4-storm, die stad Rockport, aan die kus van Texas, getref. Teen Sondag het die orkaan verswak tot ’n tropiese storm, maar dit het nog tot Woensdag 30 Augustus groot skade oor die suidooste van Texas aangerig. Die takkantoor in die Verenigde State het berigte ontvang oor die impak wat die storm op ons broers en susters gehad het.

Daar woon omtrent 84 000 Getuies in die gebiede wat deur orkaan Harvey getref is. Geen berigte is ontvang dat enige van ons broers en susters dood is nie, maar nege is beseer en vyf moes in die hospitaal opgeneem word. Altesaam 5 566 Getuies moes hulle huise verlaat. Die storm het groot skade aan 475 huise van ons broers aangerig en ’n verdere 1 182 van hulle huise het geringe skade opgedoen.

Plaaslike noodlenigings-pogings word georganiseer met behulp van die kringopsieners in Austin, Dallas en San Antonio. Honderde broers in hierdie stede het vir die Getuies van Houston en die Golfkus van Texas, wat hulle huise moes verlaat, blyplek gegee. Ander het omtrent 300 ton kos, water en ander benodigdhede geskenk. — Spreuke 3:27; Hebreërs 13:1, 2.

Die kringopsieners berig dat al die gemeentes weer vergaderinge hou en velddiens doen. Lede van die Verenigde State se takkomitee beplan om die gebiede wat deur die storm geraak is, te besoek om die broers te vertroos en te ondersteun.

David A. Semonian, woordvoerder vir Jehovah se Getuies, sê: “Ons harte gaan uit na al die slagoffers van orkaan Harvey. En ons is dankbaar vir almal wat vrywillig aangebied het om te help. Ons bid veral vir ons broers en susters wat deur die storm geraak word. En ons moedig hulle aan om voort te gaan om op Jehovah se liefdevolle arm van redding te vertrou.” — Psalm 55:8, 22; Jesaja 33:2; 40:11.

Mediaverteenwoordiger:

David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000