Spring na inhoud

31 OKTOBER 2017
VERENIGDE STATE

Getuie-video help ouers om landwye gesondheidsgevaar te hanteer: Kinders wat geboelie word

Getuie-video help ouers om landwye gesondheidsgevaar te hanteer: Kinders wat geboelie word

NEW YORK — ’n Nasionale opname is gedoen in 2017 oor die gesondheid van kinders deur C.S. Mott-Kinderhospitaal by die Universiteit van Michigan. Volgens hierdie opname het ouers in die Verenigde State gesê dat kinders wat geboelie word, die grootste gesondheidsgevaar vir kinders is.

Die webwerf stopbullying.gov, wat bestuur word deur die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste, gee ’n moontlike rede hoekom ouers bekommerd is: Betroubare navorsing het gewys dat sowat 30% Amerikaanse studente en leerlinge sê dat hulle by die skool geboelie word.

David A. Semonian, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies by hulle wêreldhoofkwartier in New York, sê: “Ons besef dat kinders in groot gevaar is om dalk geboelie te word. As deel van ons Bybelonderrigtingswerk het ons hulpmiddele wat hierdie probleem bespreek, sowel as ander uitdagings waarmee gesinne sukkel. Miljoene gesinne regoor die wêreld gebruik al amper vyf jaar lank ons witbord-tekenprent Sit ’n boelie op sy plek sonder om te baklei om hulle te help.”

’n Toneel uit Sit ’n boelie op sy plek sonder om te baklei. Hierdie video moedig jongmense aan wat geboelie word om te praat met hulle ouers, ’n onderwyser of ’n grootmens wat hulle vertrou.

Hierdie video, net korter as vier minute, is op die Getuies se amptelike webwerf, jw.org, in meer as 280 tale, wat meer as 30 gebaretale insluit, beskikbaar.

Natalia Cárdenas Zuluaga, die koördineerder van ’n nagraadse studie oor kinders en jongmense se geestesgesondheid by CES-universiteit in Colombia, sê: “Ek het regtig gehou van die idee agter Sit ’n boelie op sy plek sonder om te baklei. Byvoorbeeld, in my land leer ouers hulle kinders dat geweld soms die enigste manier is om ’n probleem op te los. Ek dink die video gee goeie raad wat kinders wat geboelie word, kan gebruik. Die video leer kinders ook ’n belangrike feit: Enigiemand kan geboelie word net omdat hy anders is. As kinders dit verstaan, kan dit hulle help om hulle eienskappe en persoonlikheid te aanvaar en om ook selfvertroue te hê.”

Dr. Joen Soeng Hong, die adjunk-assistent-professor by Soengkjoenkwan-universiteit in Suid-Korea, sê: “Jonger kinders wat geboelie word, sal veral hou van die video, en dit kan hulle help omdat dit ’n geanimeerde tekenprent is. Ek dink ook dat iemand wat die video kyk, dit beter sal onthou omdat dit ’n tekenprent is.”

Dr. Shelley Hymel, die mede-stigter van die internasionale Bullying Research Network, sê ook: “Ek dink dis ’n goeie boodskap vir kinders, en dit stem ooreen met die navorsing wat beskikbaar is. Dit sal dalk ’n goeie manier wees wat ouers of onderwysers of grootmense sal help om met kinders en jongmense hieroor te praat.”

Mnr. Semonian sê verder: “Ons is bekommerd oor kinders wat geboelie word en hoop dat die raad in hierdie video hulle beslis sal help. Soos ons video wys, moet jongmense met iemand praat wat hulle vertrou, veral hulle ouers of ’n onderwyser. Hierdie mense kan vir hulle die raad en ondersteuning gee wat hulle nodig het. Niemand moet probeer om hierdie probleem alleen te hanteer nie.”

Mediaverteenwoordiger:

David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000