Spring na inhoud

1 JUNIE 2016
VERENIGDE STATE

Jehovah se Getuies verkoop die Towers, een van hulle oudste eiendomme in Brooklyn

Jehovah se Getuies verkoop die Towers, een van hulle oudste eiendomme in Brooklyn

Die elegante Towers-hotel in sy vroeë dae.

NEW YORK—Op 24 Mei 2016 het Jehovah se Getuies die Towers, ’n woongebou met 16 verdiepings by Clarkstraat 21 in die Brooklyn Heights Geskiedkundige Distrik, in die mark gesit. Die gebou van 29 150 vierkante meter was voorheen ’n hotel en is bekend vir sy kroon van vier Venesiese torings. Dit is al die afgelope nege dekades ’n indrukwekkende kenmerk in Brooklyn.

Die Towers het oorspronklik as die Leverich Towers Hotel bekend gestaan en is in 1928 geopen. Die hotel is ontwerp deur die beroemde argitekte Starrett & Van Vleck. Hulle het ook die bekende winkels Lord & Taylor en Saks Fifth Avenue in New York ontwerp. ’n Paar jaar later het nuwe eienaars die naam na die Towers Hotel verander. Dit is as “The Aristocrat of Brooklyn Hotels” geadverteer omdat dit Romaanse versierings, ’n danssaal met kandelare en ’n onbelemmerde uitsig van Lower Manhattan, New York se hawe en die Brooklyn-brug van sy daktuin af het.

Die Towers se pragtige trap met sy twee breë trapleunings van mahoniehout, ’n pilaargang met drie boë en ’n landelike muurskildery.

Ondanks sy deftige herkoms, was die hotel teen die 1970’s in ’n vervalle toestand. Die Getuies het die gebou op 14 Januarie 1975 gekoop. Teen 1978 het hulle die eiendom omskep in ’n woongebou en ’n eetsaal vir die meer as 1 000 Jehovah se Getuies wat destyds by hulle hoofkwartier gewerk het. Richard Devine, ’n woordvoerder vir die Getuies, sê: “Ons drukwerk was besig om vinnig toe te neem. Die Towers was groot genoeg om ons groeiende personeel te huisves.”

Wanneer jy noordwaarts deur die pergolas op Die Towers se daktuin kyk, kan jy die kantoorgeboue van die Getuies se wêreldhoofkwartier, die Brooklyn-brug, die Manhattan-brug asook die Empire State-gebou in die verte sien.

In 1995 het die Getuies met groter opknappingswerk begin om die voormalige hotel se prag gedeeltelik te herstel. Mnr. Devine het vertel wat die konstruksiewerk behels het en het gesê: “In die 1990’s het ons die binnekant van die gebou heeltemal herbou en al die pype en elektriese bedrading vervang. Maar ons het ook die pragtige trap geïnstalleer wat van die nuwe hoofportaal na die eetsaalvloer lei.”

David A. Semonian, nog ’n woordvoerder by die Getuies se wêreldhoofkwartier, sê: “Wanneer jy in die strate van Brooklyn Heights naby die Towers loop, kan jy nie anders as om dié elegante gebou raak te sien nie. Maar buiten die feit dat ons ons bes gedoen het om die Towers se prag te behou, is dit al dekades lank ’n gemaklike tuiste vir werkers by ons hoofkwartier.”

Mediaverteenwoordiger:

David A. Semonian, Office of Public Information, 1-718-560-5000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000