Spring na inhoud

1 MEI 2018
WÊRELDNUUS

Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies vir 2018 begin in Mei

Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies vir 2018 begin in Mei

NEW YORK — Jehovah se Getuies is gereed om op Vrydag 18 Mei 2018 met hulle jaarlikse reeks streekbyeenkomste te begin. Die tema van hierdie jaar se byeenkoms is “Wees moedig”! Voor die streekbyeenkoms sal Getuies regoor die wêreld aan ’n wêreldwye kampanje deelneem om mense te nooi om die program, wat gratis is, by te woon. Die streekbyeenkomste sal in 180 lande gehou word.

Die driedaagse streekbyeenkoms sal 54 dele insluit met toesprake, oudio-dramas, onderhoude en kort video’s. Daar sal ook ’n vollengte film met die naam Die verhaal van Jona — ’n Les oor moed en genade op die laaste dag van die byeenkoms gewys word. Die oggend- en middagsessies sal elke dag met musiekvideo’s begin wat spesiaal vir die streekbyeenkoms voorberei is.

David A. Semonian, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies, sê: “Wanneer jy na die nuus kyk, dan is dit duidelik dat mense van alle ouderdomme meer as ooit te vore met stres en probleme sukkel. ’n Mens moet moedig wees om so baie druk te hanteer. Ons nooi almal na hierdie jaar se streekbyeenkoms sodat die praktiese raad wat in die Bybel is, hulle kan help.”

Die datum en plek vir elke streekbyeenkoms kan op die Getuies se amptelike webwerf, jw.org, gevind word.

Mediaverteenwoordigers:

David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000