Spring na inhoud

Broer Aleksandr Ursu

4 DESEMBER 2020
WÊRELDNUUS

80-Jarige broer Aleksandr Ursu praat oor ’n leeftyd van volharding

80-Jarige broer Aleksandr Ursu praat oor ’n leeftyd van volharding

“Jehovah het in die verlede na ons gekyk, en ek weet dat hy sal aanhou om dit te doen.”

Broer Aleksandr Ursu, wat toe 78 jaar oud was, het uit sy huis in Dzjankoi, die Krim, gegaan om sy seun, Wiktor, buite te groet. Dit was op die aand van 15 November 2018. ’n Lig by Aleksandr se voorhek het hom laat skrik. Hy het versigtig nader gestap. Skielik het hy iemand hoor skree: “Stop! Polisie!”

Aleksandr het gedink dat dit broers was wat ’n grap maak, maar hy het gou uitgevind dat dit nie ’n grap was nie. ’n Gemaskerde man het Aleksandr by sy arms gegryp en sy arms agter sy rug gedraai, wat baie seer was. Nog ’n gemaskerde man het hom op sy kakebeen geslaan. Ses agente van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) met masjiengewere het Aleksandr en Wiktor deursoek voordat hulle by die huis ingestorm het.

Aleksandr se vrou, Nina, was in die kombuis toe die agente by die huis ingestorm het. Een van hulle het haar selfoon gegryp en haar gevra wat sy kyk. Hulle het die huis ure lank deursoek, maar kon geen lektuur vind wat op Rusland se lys van ekstremistiese materiaal is nie.

Broer Aleksandr Ursu saam met sy vrou, Nina, in 2020

Ons liewe bejaarde broer is nie gearresteer nie. Maar Aleksandr en ander Getuies in Rusland en die Krim lewe elke dag met die wete dat die polisie op enige tyd hulle huise kan deursoek en hulle kan arresteer. Om hierdie ontstellende werklikheid te hanteer, dink hy na oor die goeie voorbeelde van sy getroue familielede, sowel as die ondervindinge wat hy gehad het as gevolg van vervolging onder die Sowjetregering.

Op 6 Julie 1949, toe Aleksandr nege jaar oud was, het Sowjetsoldate in die middel van die nag by sy familie se huis ingestorm en die plek deursoek. Hulle het die familie se besittings in die middel van die kamer op die vloer gegooi en vir hulle gesê om te begin pak. Aleksandr onthou: “Toe die soldate nie gekyk het nie, het my ma Bybellektuur tussen ons ander goed weggesteek, insluitende die boek Die harp van God.” Die soldate het die hele familie na die treinstasie toe geneem.

Aleksandr se familie, saam met die ander Getuies op die trein, het moedig Koninkryksliedjies gesing op pad na hulle nuwe huis, Siberië. Hulle is onder die duisende broers en susters wat tussen 1949 en 1951 geforseer is om na Siberië te trek.

Gedurende die 1950’s in Siberië het die broers in die geheim op plase bymekaargekom om vergaderinge te hou. Party families het tot 20 kilometer gestap om by vergaderinge uit te kom.

Aleksandr is gehelp deur die goeie voorbeeld van sy getroue familielede. Sy pa se oupa, Makar; sy oupa, Maksim; sy grootoom Wladimir en sy pa, Pjotr, was almal wonderlike voorbeelde van lojale volharding.

Foto aan linkerkant, kloksgewys: Broer Aleksandr Ursu hou sy seun Wiktor vas; sy vrou, Nina; sy ma Nadezjda; sy pa, Pjotr, hou sy dogter Dina (Aleksandr se dogter) vas. Foto aan regterkant: Broer Wladimir Ursu, die broer van Aleksandr se oupa, Maksim. Wladimir en Maksim het getrou in die tronk gesterf

In 1944 is Aleksandr se pa tot tien jaar tronkstraf gevonnis omdat hy geweier het om militêre diens te doen. Nadat hy drie jaar uitgedien het, het hy huis toe gekom omdat ’n besering aan sy ruggraat hom verlam het. Aleksandr onthou hoe sy pa Bybelverhale vertel het oor Dawid, Goliat en Dawid se vriendskap met Jonatan.

Aleksandr onthou: “My oom Wladimir het getrou na WBBR geluister en Bybellektuur ontvang. Dit was onwettig om in daardie dae ’n radio te besit, daarom het my oom ’n klein ondergrondse kamer gebou waar hy en ander belangstellendes veilig na radio-uitsendings op WBBR kon luister.”

In die 1940’s het ’n “belangstellende” vir die owerheid gesê waar die ondergrondse kamer is. Aleksandr se oom en oupa is gearresteer en in die tronk gesit in Chotin, in Wes-Oekraïne, sowat 80 kilometer van hulle tuisdorp.

“My ouma het na die tronk toe gestap om hulle te besoek. Sy het vir ons gesê dat hulle geloof hulle gelukkig gehou het, maar sy kon sien dat hulle geslaan word.” Ongelukkig het Aleksandr se oom en oupa in die tronk gesterf.

Aleksandr vertel: “Ons weet nie wat met hulle gebeur het, hoe hulle behandel is, hoe hulle gesterf het en waar hulle begrawe is nie. Maar dit het ons aangemoedig om te weet dat hulle tot die dood toe getrou aan Jehovah gebly het.”

Die voorbeeld van Aleksandr se familielede wat lojaal aan Jehovah gebly het, sowel as sy eie ondervinding in Siberië het hom voorberei vir die huidige vervolging. Hy sê: “Ek is gewoond daaraan dat ons huise deursoek word, want dit gebeur nou al vandat ek ’n kind is. Jehovah het in die verlede na ons gekyk, en ek weet dat hy sal aanhou om dit te doen.”

Aleksandr verduidelik: “Ander dinge wat my help, is daaglikse Bybelstudie en bepeinsing, gereelde vergaderingbywoning en om met my broers en susters te praat.”

Hy lees ook gereeld oor die hofsake van ander broers wat vervolg word, en hulle moed versterk hom. Hy sê: “Ek lees wat party broers gesê het gedurende hulle laaste woorde in die hof. Hulle moedige getuienis vervul die profetiese woorde van Jesus: ‘Julle sal voor goewerneurs en konings gebring word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle en die nasies.’” – Matteus 10:18.

Ons broers en susters volhard en floreer selfs al word hulle vervolg, danksy die liefdevolle ondersteuning van ons God, Jehovah. Hulle is ’n lewende bewys van hoe waar Dawid se geïnspireerde woorde is: “Almal wat beskerming by [Jehovah] kom soek, sal bly wees. Hulle sal altyd van vreugde uitroep.” – Psalm 5:11.