Spring na inhoud

Dmitri Dolzjikof is die 100ste Getuie wat op die oomblik onder die Russiese wet in die tronk is vir deelname aan Christelike bedrywighede

28 OKTOBER 2022
WÊRELDNUUS

Aantal Getuies in die tronk in Rusland en die Krim is nou meer as 100

Aantal Getuies in die tronk in Rusland en die Krim is nou meer as 100

Tot en met 26 Oktober 2022 is daar 106 broers en 4 susters of in die tronk of in aanhouding voor hulle verhoor omdat hulle hulle geloof in Rusland en die Krim beoefen. Broer Dmitri Dolzjikof, wat 44 jaar oud is, is die 100ste kneg van Jehovah wat op die oomblik in die tronk is. Dmitri is op 8 September 2022 gearresteer. Hy is aangekla van deelname aan die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie omdat hy Christelike vergaderinge bygewoon het en sy geloof met ander gedeel het. Sedert ons werk in 2017 verbied is, het amper 350 Getuies tyd in die tronk deurgebring.

Die polisie het Dmitri gearresteer nadat hulle sy woonstel in die Tsjeljabinsk-streek deursoek het. Twee dae later is hy in aanhouding voor sy verhoor geplaas in die Nowosibirsk-streek, wat sowat 1 500 kilometer van sy huis af is.

Dmitri is in ’n detensiesel saam met 12 ander mense. Sy vrou, Marina, word nie toegelaat om hom te besoek nie, maar hulle word toegelaat om deur middel van briewe te kommunikeer.

Marina het gesê: “Toe hy die eerste keer gearresteer is, het ek nie goed geslaap nie, en ek het dikwels in die nag wakker geword. Vriende in die gemeente het my genooi om by hulle te bly. Dit het my baie gehelp en ondersteun.”

Volgens Marina is Dmitri kalm en positief. Sy sê: “Jehovah sorg vir hom.”

Marina en Dmitri Dolzjikof

Ons broers en susters word onder die Kriminele Kode van die Russiese Federasie aangekla as gevolg van ekstremistiese bedrywighede. Dit sluit die 57-jarige Anna Safronowa in, wat op die oomblik ’n tronkvonnis van ses jaar uitdien. Dit is die langste tronkvonnis wat aan ’n suster gegee is.

Dmitri se arrestasie is nog ’n skandelike gebeurtenis in Rusland se veldtog teen Jehovah se Getuies. Dit hou al langer as vyf jaar aan ten spyte van die feit dat internasionale organisasies baie keer hierdie vervolging veroordeel het. Toe Rusland se Hooggeregshof in 2017 teen Jehovah se Getuies beslis het, het die Russiese owerhede beweer dat hulle die Getuies se regsentiteite sou likwideer en nie met enige godsdiensbedrywighede sou inmeng nie. Maar dit is nie waar nie. Tot nou toe is 308 kriminele sake teen amper 700 Getuies van Jehovah gemaak. En 1 851 huise van Getuies is al deursoek.

Ons gebede is met Dmitri en al ons broers en susters wat as gevolg van hulle geloof vervolg word. Ons weet dat Jehovah sal aanhou om hulle die krag te gee om te volhard. – Matteus 24:13.