Spring na inhoud

’n Broer wat op ’n kano op die Malawi-meer is, laai video’s van die gemeentelike vergaderinge af

29 DESEMBER 2020
WÊRELDNUUS

Broers in afgeleë plekke moet hard werk en kreatief wees om vergaderinge te hou

Broers in afgeleë plekke moet hard werk en kreatief wees om vergaderinge te hou

Baie gemeentes regoor die wêreld gebruik verskillende elektroniese maniere om gedurende die pandemie vergaderinge te hou. Maar party van ons broers wat in afgeleë plekke woon en wat sukkel met Internettoegang doen baie moeite om by hulle normale geestelike roetine te bly terwyl hulle nog steeds gehoorsaam is aan COVID-19-veiligheidsmaatreëls. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde uit Afrika.

Malawi

Baie broers en susters het nie toegang tot die Internet nie, en daarom kan hulle nie Zoom gebruik nie. Die takkantoor in Malawi gebruik die selfoonnetwerk om elke week video’s van die vergaderinge na die ouermanne van elke gemeente te stuur. Die ouermanne stuur dan die video’s na die verkondigers in hulle gemeente.

Maar vir die 28 verkondigers in die Tcharo-gemeente was dit nie so maklik nie, want hulle bly tussen die berge in Noord-Malawi naby die Malawi-meer. Die berge keer selfoonopvangs in die gebied en daarom moet ’n ouerman baie kilometers ver gaan om by ’n plek te kom waar die sein sterk is. Agterna moet die ouerman weer al die pad teruggaan en deur die berge loop om naby genoeg aan elke Getuie se huis te kom sodat hy die video’s met Bluetooth na hulle toe kan stuur.

Onlangs was die ouermanne baie bly toe hulle uitvind dat hulle baie nader aan hulle huis – op die Malawi-meer – ’n sterker selfoonopvangs kan kry. Die broers kan die video’s aflaai terwyl hulle weg van die berge op ’n kano op die meer is. Dit spaar die ouermanne baie tyd omdat hulle nie so ver hoef te reis nie.

Mosambiek

Om gemeentes in die afgeleë noordwestelike gebiede van Mosambiek te “besoek” moet kringopsieners in daardie streek hulle toesprake oor selfone hou. Aangesien konferensieoproepe baie keer nie beskikbaar is nie, is dit niks vreemds vir ’n kringopsiener om ’n toespraak te hou met ’n klomp selfone voor hom nie, want die selfone is verbind met die verskillende huishoudings in die gemeente.

Broer Alique Cazawe, ’n kringopsiener, hou ’n toespraak. Al die selfone is verbind aan verskillende huishoudings in die gemeente

Party van die verkondigers woon in gebiede wat so afgeleë is dat daar nie selfoonopvangs naby hulle huis is nie. Wanneer dit tyd is vir ’n vergadering loop die broers en susters deur die bos totdat hulle opvangs kry. Wanneer hulle ’n sein kry, gaan sit hulle net daar en luister na die program.

Broer Yohane Vinho, ’n kringopsiener in daardie gebied, verduidelik dat “baie broers en susters groot moeite doen om by die vergaderinge baat te vind” sodat hulle geestelik sterk kan bly al is hulle so ver weg van alles en almal. ’n Ander kringopsiener, broer Carlos Cortazão, sê verder: “Dit voel vir ons asof ons nog steeds saam met ons broers by die Koninkryksaal is waar ons ons antwoorde gee en saam sing. Ons kan regtig sien hoe Jehovah aanhou om sy volk geestelik te voed gedurende hierdie pandemie.” – Johannes 21:17.