Spring na inhoud

10 MAART 2023
WÊRELDNUUS

Bybelvertalings vrygestel in Suid-Afrika

Bybelvertalings vrygestel in Suid-Afrika

Op 5 Maart 2023 het broer David Splane, ’n lid van die Bestuursliggaam, die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Suid-Afrikaanse Gebaretaal (wat as SASL in Suid-Afrika bekend staan) vrygestel, asook die boek Matteus in Ndonga. Broer Splane het die Bybels vrygestel tydens ’n spesiale program wat by die takkantoor in Suid-Afrika gehou is. Baie gemeentes het vanuit ander gebiede by die program ingeskakel. Altesaam het meer as 130 000 mense na die program geluister. Digitale kopieë was dadelik beskikbaar.

In 2007 het vertalers by die takkantoor wat naby Johannesburg in Suid-Afrika is, met die vertaling in SASL begin. In 2022 het die vertaalspan na ’n vertaalkantoor in Durban getrek. Broer Ayanda Mdabe, ’n dowe ouerman, het oor die Bybel in SASL wat onlangs vrygestel is, gesê: “Met hierdie vertaling kan die dowes nog beter verstaan dat die Bybel betroubaar is en dat dit krag het. Om die Bybel in SASL te sien, help my om Jesus se persoonlikheid en Bybelbeginsels beter te verstaan. En dit het ’n invloed op hoe ek dink.”

Ndonga word meestal in Namibië gepraat, en die vertaalkantoor is in Ondangwa. a Een van die vertalers het gesê: “Die vrystelling van hierdie Bybel het my herinner dat Jehovah lief is vir mense en dat hy wil hê dat hulle tot akkurate kennis van hom moet kom.”

Ons is saam met ons broers en susters bly wat sal baat vind by die nuwe vrystellings. Hierdie akkurate vertalings sal hulle help om Jehovah se gebooie as ’n skat te bewaar. – Spreuke 2:1.

a Die takkantoor in Suid-Afrika hou toesig oor die werk in Namibië.